Vasbeslote Leeus wil hê toer moet voortgaan

Die Britse en Ierse Leeus speel nou weer teen die Haaie. Foto:Phill Magakoe/AFP.

Te midde van ’n golf van onsekerheid sowel as ʼn derde Covid-19-vlaag wat tans oor die Britse en Ierse Leeus se toer na Suid-Afrika spoel, is die besoekers vasbeslote om ’n sukses van die reeks te maak.

’n Paar positiewe gevalle in hul eie kamp het hulle Woensdag genoop om grootskaalse veranderinge aan die span te maak wat teen die Haaie uitgedraf het, terwyl Covid-19 ook ’n stokkie voor Saterdag se wedstryd teen die Bulle gesteek het.

Om met hul voorbereiding vir die toetsreeks te help speel die Leeus nou die naweek weer teen die Haaie; dié keer op Loftus Versfeld.

Volgens Ben Calveley, die Leeus se besturende direkteur, doen hulle alles in hul vermoë om elke hindernis op hul pad te probeer oorbrug.

“Dit is ongetwyfeld ’n uitdaging. Ek gaan nie hier sit en sê dit is maklik nie, maar ons is vasbeslote om dinge te laat werk.”

Die span se bioborrelmaatreëls is baie streng en ’n mediese raadgewende span – gelaai met onafhanklike viroloë en spesialiste – bepaal amper al wat ʼn beweging is.

“Dieselfde maatreëls geld die Springbokke ook: Ons word ’n minimum van drie keer per week getoets, ons het geen interaksie met die publiek nie en ons speel in baie minder venues as op vorige toere. Ons doen alles in ons vermoë om toe te sien dat die toer voortgaan.”

Intussen het die speler wat Woensdag positief vir die virus getoets het, nou met ’n negatiewe toetsuitslag vorendag gekom.

Dan sien Calveley ook uit na die tweede wedstryd teen die Haaie.

“Ons wil wedstryde speel sodat ons gereed kan wees vir die Springbokke in die komende toetsreeks. Ons is bevoorreg om fantastiese spelers in ons groep te hê; hulle is nie net die beste spelers ter wêreld nie, maar hulle het ook sterk persoonlikhede.”

  • Die wedstryd teen die Haaie begin môre om 18:00 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Josua ·

Dit is die guldigste geleentheid om die reeks teen die bokke te wen en ons verneder as ooit tevore. Ons spelers is nie fiks genoeg nie het nie genoeg wedsrtyde gespeel nie en kan nie kompeteer met n saamgestelde span van oorsee se spelers wat tot onlangs nog mekaar op die veld aangedurf het nie. Sou ons die reeks verloor sal dit nie bekend staan as die Covid wen reeks nie maar dat hulle ons geklop het ongeag die omstandighede, sou die bokke egter in hul posisie tans gewees het en hulle was so lank uit goeie internasionale rugby soos die 4 nasies by ons geskop gewees het en so lank in afsondering vasgevang was sou hulle beslis die toer gekanselleer of uitgestel het so hulle vat n man wat reeds op die grond lê aan in n geveg, wen ons die reeks sal dit die grootste vernedering vir die Britse en Ierse leeus wees want hulle het verloor teen n erg verswakte onfikse Bok span.

piet ·

Drie-kwart van ons Springbokke speel dan al die heeltyd oorsee en die res is al vir maande in die plaaslike kompetisies. Ons kan nie die verskoning he dat ons onfiks is nie, ons het net geen top-gehalte toetse gespeel nie. Ons kan ook nie die Leeus blameer vir ons swak gehalte plaaslike kompetisies nie. So terloops – in ons eerste toetswedstryd na jare se isolasie het ons met 3 punte teen die All Blacks verloor.

piet ·

Gaan die Sharks hierdie keer met meer of minder as 50 punte verloor (hulle het nie ‘n kat se kans om te wen nie)?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.