Vaskop of loskop, Nyakane sal sy bes gee

Die Sprinbokke se Trevor Nyakane. Foto: Juan Gasparini/AFP.

Die gewilde Trevor Nyakane het verlede week ’n barshou teen die Britse en Ierse Leeus gespeel. En die feit dat hy as ’n loskopstut ingespan is, pla hom ook nie veel nie.

Volgens die Wêreldbeker-wenner was hy juis in sy jonger dae ’n loskopstut voordat hy later in sy loopbaan gevra is om aan die anderkant van die skrum te sak.

“Deesdae is ek beslis ’n vaskopstut, maar alles gaan oor die groen en goud en waar die span my benodig. Goeiste, ek sal selfs slot speel as dit moet, maar ek gaan waarskynlik ’n bietjie in die lynstane sukkel,” het Nyakane gesê.

Die 32-jarige speler het weliswaar in die eerste toets die nommerdrietrui gedra, maar met Ox Nché op die krukkelys het die Springbokbestuur hom gevra om op loskop uit te help.

“Ek dink ek het laas in 2016 in dié posisie gespeel, en dus was dit aanvanklik ’n uitdaging, maar Ox en Steven (Kitshoff) het vir my goeie raad gegee. Wanneer jy die Springboktrui oor jou kop trek, weet jy wat van jou verwag word.”

Volgens Nyakane stook die slotte en lostrio ook lekker die Bokke se skrumvuur; die voorry kan dus hul taak makliker gedoen kry.

Hy is saam met Malcolm Marx en Vincent Koch die voorryspelers op die Suid-Afrikaners se plaasvervangersbank en hulle sal waarskynlik in die tweede helfte losgelaat word waar hulle kragte teen die Leeus se Luke Cowen-Dickie, Mako Vunipola en Kyle Sinckler kan meet.

“Ons sal beslis ons beste gee om die wedstryd te wen,” het Nyakane die Bok-ondersteuners verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek dink maroela moet ‘n meningsopname vat en bepaal hoeveel mense in SA volg en ondersteun nog rugby in sy huidige SA vorm .Dit sal nogal amusant wees.

Kirst ·

Dis vir my nogal amusant dat mense soos jy die artikel lees en kommentaar lewer daarop as julle kwansuis nie meer Springbokrugby volg nie. Go Bokke!

Paul ·

Ja dit sal nogal interessant wees. Jarre gelede met intervarsities tussen Tukkies en Wits was pawiljoene oorvol. Eindstryde van die jaarlikse Carlton-beker was daar nie ‘n plek vir ‘n muis nie. In daardie dae as jy nie teen 11-uur op Ellis Park was in ‘n wedstryd Tvl vs N-Tvl nie moes jy maar iewers staanplek soek.
Met die laaste paar jaar voor Covid was daar slegs ‘n handjievol toeskouers per Currie-beker wedstryd en klubrugby is in sy peetjie.
Ek glo, agv gebrek aan belangstelling sal SA nooit ooit weer die gasheer wees vir ‘n wêreldbeker-reeks.
Terloops, Nyakane is my gunsteling springbok.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.