Veelsydige Kolbe wil Olimpiese Spele toe gaan

Cheslin Kolbe. (Kyodo News via AP).

Cheslin Kolbe het ’n droom. En dit is om Suid-Afrika by die Olimpiese Spele in Japan te verteenwoordig.

Dié buksie van ’n agterspeler het verlede jaar ʼn sleutelrol vir die Springbokke in hul suksesvolle Wêreldbeker-veldtog in die einste land gespeel. Hy het met sy zoep-zarts-en-zirts-lopies beïndruk, terwyl hy veel groter verdedigers gereeld op hul neuse laat kyk het.

Dan druk hy sy stempel dubbel en dwars af vir Toulouse in Frankryk. Hy is die naweek deur sy klub se bestuur gevra om op losskakel teen Racing 92 uit te draf en hy het terstond met ’n paar goeie stelskoppe geslaag.

G’n wonder die Blitsbok-ondersteuners vry so hard na sy Olimpiese insluiting nie.

Tog sal vyftienmanspelers eers ’n paar sewestoernooie agter die blad moet hê voordat hul vliegtuigkaartjie na Tokio bespreek kan word.

Toulouse het juis glo ’n stokkie voor Kolbe se deelname aan die komende naweek se Los Angeles-toernooi gesteek omdat hy klubverpligtinge het.

“Om jou land op een van die grootste sportverhoë in die wêreld – die Olimpiese Spele – te verteenwoordig is ’n massiewe geleentheid. Dit sal ’n seën wees as ek kan gaan, maar ek wil ook nie die wa voor die perde span nie,” het Kolbe gesê.

  • Intussen het die Blitsbokke drie nuwe spelers gekies vir die komende toernooi in die VSA.

Kurt-Lee Arendse, Ryan Oosthuizen en Mfundo Ndhlovu (reserwe) is gekies, terwyl Chris Dry, Justin Geduld en Zain Davids ’n welverdiende ruskans geniet.

Die Laeveldse ster Werner Kok sal in sy 50ste toernooi vir die Blitse speel.

Die Blitsbok-groep vir Las Vegas: Angelo Davids, Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Sako Makata, Werner Kok, JC Pretorius, Branco du Preez, Selvyn Davids, Kurt-Lee Arendse, Cecil Afrika, Muller du Plessis, Stedman Gans (kaptein) en Mfundo Ndhlovu.

Die verskillende groepe:

Groep A: Fidji, Argentinië, Frankryk en Korea

Groep B: Suid-Afrika, Ierland, Kanada en Kenia

Groep C: VSA, Australië, Skotland en Samoa

Groep D: Engeland, Nieu-Seeland, Wallis en Spanje

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.