Veggees bring bonuspunt-sege vir Cheetahs

Dit was nie deurgaans indrukwekkend nie, maar die Cheetahs het Saterdag met hul veggees en ook stukkies uitstekende rugby, darem vir Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners ietsie gegee om die naweek oor te juig.

Die span van Shaun Venter het teen Benetton in die Vrystaat-stadion slegs hul tweede wedstryd van die 2018/’19-Pro14-reeks gewen. Die telling was 31-26 en hul vier drieë het aan hulle ʼn bonuspunt besorg.

Vol punte vir veggees aan die Vrystaters, wat ná net drie minute agter was en die tweede helfte met ʼn agterstand van 7-15 moes begin.

Benetton se amperse wen was ʼn onaangename verrassing. Die Italianers, wat vir hierdie wedstryd nie op volle sterkte was nie, het beklemtoon dat daar in die Pro14-reeks geen maklike wedstryd is nie, en ook dat die dae van ʼn sogenaamde B-span verby is waar spanne  weekin en weekuit moet meeding.

Die Cheetahs was, as jy na die statistieke moet kyk, feitlik oral baas. Hulle het verder met die bal gehardloop, dit meer effektief gedoen en die bal meer as die besoekers gedra en uitgegee, moes minder duikslae uitvoer en het dit effektief gedoen en met 11 strafskoppe afgestaan teenoor Benetton se 16 was hulle ook meer gedissiplineerd.

Die uitdrukking wipplank-wedstryd was inderdaad op dié kragmeting van toepassing. Benewens die inhaalrugby wat die Cheetahs tot rustyd moes speel, het die voorsprong ses keer van eienaar verwissel.

Die voorspelers van die Cheetahs het die deurslag gegee. Hulle was veral in die tweede helfte baas by die afbreekpunte waar Daniel Maartens se twee drieë sy beloning vir harde werk was.

Nie dat die agterlyn hierjy-rugby gespeel het nie. Daar was ʼn paar juweeltjies waar die snellers se tydsberekening en hul hardlooplyne die Italianers oorhoops gehad het.

Kom ons hoop die Cheetahs, wat nou na voorlaaste plek op die punteleer in afdeling A van die kompetisie opgeskuif het, doen so voort. Hulle is nou voorlaaste, maar Zebre moet Sondagmiddag nog hul negende wedstryd speel.

Die Cheetahs speel aanstaande naweek, wéér in Bloemfontein, teen Connacht wat Sondagmiddag in die Baai teen die Southern Kings te staan kom.

Puntemakers ‒

Cheetahs (7) 31: Drieë: Nico Lee, Shaun Venter, Daniel Maartens (2). Doelskoppe: Tian Schoeman (3), Louis Fouché. Strafdoel: Fouché.
Benetton (15) 25: Drieë: Marco Zanon, Dewaldt Duvenage, Ian McKinley. Doelskoppe: McKinley (2). Strafdoele: McKinley (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.