Veggees nie genoeg vir Pepervreters, Alligators

Die Pepervreters en die Alligators het beïndruk met hul veggees met die klap van die eerste skote in die nuwe Suid-Amerikaanse Sesnasiesreeks, maar teen die groter kanonne het dit tekortgeskiet.

Die reeks vervang die ou Suid-Amerikaanse A-kampioenskap.

Die groot verrassing Saterdag was Brasilië se oorwinning van 28-12 oor Chili in São Paolo, Brasilië.

Die besoekende Kondors het as die gunsteling opgedraf, maar die Tupis het rustyd reeds met 15-0 voorgeloop, en hul grootste oorwinning tot dusver oor Chili behaal.

♦ In Medellίn, Colombia, het die plaaslike Pepervreters met 3-25 teen ʼn Uruguaanse Vyftiental verloor.

Die Uruguane was rustyd slegs met 14-5 voor, en hul sege is veel kleiner as wat allerweë verwag is.

♦ Nieteenstaande die durf wat Paraguay se Alligators aan die dag gelê het, het die Argentynse Vyftiental hulle in Asunción met 64-3 afgeslag.

Die Argentyne was rustyd met 31-3 voor.

Kommentators is veral beïndruk daarmee dat die Paraguane in die tweede helfte ewe goed as in die eerste teenstand gebied het.

♦ Intussen is berig dat die Boliviaanse Rugbyfederasie (FBR) pas as assosiaatlid van Suid-Amerikaanse Rugby (SAR), die gewestelike beheerliggaam, toegelaat is – die laaste land op dié vasteland om by SAR in te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.