Vegter Potties ná 16 jaar uit as tot kampioen

Phil Herselman, Potgietersrus se kaptein, breek deur.

Phil Herselman, Potgietersrus se kaptein, breek weg.

Potgietersrus het `n merkwaardige veggees getoon deur uit die as op te staan en boonop van agter te kom om Saterdag ná 16 jaar weer die Limpopo Blou Bulle se Boet Fick-liga te wen.

Hy het Pietersburg Noordelikes – wat die liga die afgelope agt jaar gewen het – 26-22 in die eindstryd by die Kierieklapperfees op Potgietersrus geklop, nadat hy Louis Trichardt 54-7 in die halfeindronde uitgeskakel het.

`n Woordvoerder van Potties sê die klub het deur `n moeilike tyd gegaan sedert hy die titel in 2000 gewen het en dit is selfs intussen tot niet.

“In 2012 het die klub weer sukkel-sukkel aan die gang gekom en in 2013 was Potties die naaswenner van die Waterbergliga. In 2014 het hy dié liga gewen, maar teen Noordelikes (die Boet Fick-wenner) in die Limpopo-eindstryd verloor. In 2015 was hy weer die Waterberg-naaswenner.

Potgietersrus - Boet Fick-kampioen.

Potgietersrus – Boet Fick-kampioen.

“Omdat die Waterbergliga as `n B-liga beskou word, het Potties belsuit om na die Boet Fick-liga te skuif, wat as die senior liga beskou word.

“Juis omdat Potties van die laer liga af gekom het, het spanne soos Louis Trichardt, Letaba en Noordelikes geglo hy staan nie `n kans om die beker te wen nie.”

Die woordvoerder sê ná `n naelbytstryd van 79 minute was Potties Saterdag 19-22 agter, voor `n oorstootdrie gesorg dat hy die wedstryd 26-22 wen.

Philip Fuls (2), Deon Klein en Jan Vorster het Potties se drieë gedruk. Vorster het drie daarvan verdoel.

Potgietersrus speel komende Saterdag weg teen die Waterberg-wenner, Northam, om die Limpopo-kampioen te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.