Venter en dalk ook Gary Gold sit afrigtersuittog voort

Gary Gold (Foto: thesun.co.uk)

Gary Gold (Foto: thesun.co.uk)

Brendan Venter se ooreenkoms om tot met die 2019 Wêreldbeker Italië se verdedigingsafrigter te wees, kon nie op ’n slegter tyd vir Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners gekom het nie.

Die ondersteuners hoop op ’n omkeerstrategie om die Springbokke van die ashoop te laat opstaan en dis afrigters soos Venter wat die vlammetjie van hoop aan die brand hou.

Een van die Springbokke se neerlae in 2016, trouens die skok van die jaar, was teen die einste Italië vir wie Venter voor daardie kragmeting bygestaan het. Later vanjaar speel die Springbokke weer teen die Italianers en skielik is ’n oorwinning met Venter in die opposisiekamp nie ’n gegewe nie.

Venter, wat ʼn mediese praktyk in die Kaap het, sou wel nie die Bokke voltyds kon afrig nie, maar daar was sprake dat hy as mentor/konsultant vir Allister Coetzee kon optree.

Coetzee wil na verneem word sy afrigtingspan glo met die Cheetahs-breier Franco Smith versterk. Dit sou sin gemaak het om iemand soos Venter, wat met sukses by die Sharks en London Irish betrokke was, te betrek om sake te probeer beredder.

Die name van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se voormalige hoof van rugby, Rassie Erasmus, wat deesdae Munster in Ierland met sukses afrig en Johan Ackerman, afrigter van die Lions, word steeds knaend met die toppos in plaaslike rugby verbind.

♦  Venter is die jongste in die eksodus van afrigters wat hulle heil toenemend oorsee soek. En nou is daar by Worcester Warriors sterk sprake dat Gary Gold, die voormalige hulpafrigter van die Springbokke en tot verlede jaar die direkteur van afrigting van die Sharks, hierdie pos by die Warriors gaan beklee.

♦  Dawie Theron, die voormalige afrigter van die Junior Bokke, die voormalige Puma-breier Jimmy Stonehouse en die voormalige Bullsafrigter Frans Ludeke is nog ervare manne wat almal deesdae in Japan afrig.

Dan is daar natuurlik ook Erasmus en Jake White wat onderskeidelik in Ierland en Europa afrig. John Mitchell is ook vir Suid-Afrika verlore, hoewel sy persoonlikheid in Suid-Afrika by die Leeus/Lions probleme gegee het en dit weer sal doen.

Die ironie is dat die res van die wêreld ons bestes kan afrokkel, maar dat daar ʼn onwilligheid en ook ʼn finansiële beletsel is om goeie afrigters van oorsee na Suid-Afrika te lok.

Natuurlik skrik die politieke vereistes wat (ondermeer) ten opsigte van kwotas geld hulle ook af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Arie ·

Wie sal sy werk los en ons kom afrig? Want dis net vir ‘n jaar dan word hy weggejaag. Ons afrigters kan nie die beste spelers kies nie want kleur kry voorkeur, so daar sit Sarfu nou in tamatie straat en mense wat nie meer wil rugby kyk nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.