Verbeterde Bulls se vroeë oorheersing nie genoeg

RG Snyman – hy was uitstekend (Foto: GB Jordaan)

En toe begin die Chiefs hardloop … en klop hulle die Bulls maklik nadat die Pretorianers vir 60 minute gehardloop, geduik en alles oorheers het, maar nie ’n drie kon druk nie.

Die telling van 28-12 is miskien die regte uitslag omdat die Chiefs, toe hulle eers aan die gang kom, drie keer kon gaan druk. Maar dis tog hartseer vir die Bulls en hulle ondersteuners dat daar so min van die totale oorheersing in daardie eerste uur of so gekom het.

Hulle het in die eerste helfte feitlik 80 persent van die besit en ook groot gebiedsvoordeel gehad en dit was eers hier by die halfuurmerk dat die Chiefs die eerste keer in die Bulls se kwartgebied gekom het.

Die Bulls het hulle kanse gehad en hulle is ’n hele paar keer letterlik binne ’n meter van die doellyn gekeer.

Dit was egter nie genoeg nie. Goeie lakwerk van die tuisspan het sy deel bygedra en in die geheel kan daar nie té veel vinger na die Bulls se vaardighede gewys word nie.

Maar dis in die geheel … en die een of drie uitsonderings het hulle gekos

Lood de Jager het gespeel soos hy kan. RG Snyman was uitstekend. Die keerwerk van die losvoorspelers in die besonder met Ruan Steenkamp vooraan, maar ook die span as geheel, het die Chiefs oorhoops en effe verbouereerd gehad.

Agterlangs het Jesse Kriel op heelagter gespeel soos toe hy die eerste keer die oog gevang het; op senter was Jan Serfontein en Burger Odendaal in die eerste helfte gevaarlik.

Die Bulls het goed geskrum en hul lynstane was soos altyd uitstekend.

Op die oud end het daardie een belangrike dingetjie egter kortgekom waaroor alles gaan: punte op die telbord.

Dit was nietemin ʼn hele paar trappies op van verlede naweek se gesukkel teen die Blues (ook na rustyd) en die Bulls het seker die meeste nóg in jare gehardloop en dit redelik effektief gedoen.

Nou is dit egter tyd vir die spelers om daardie afronding reg te kry …

Puntemakers –

Chiefs (3) 28. Drieë: Shaun Stevenson, Damian McKenzie, Atu Moli. Doelskoppe: Aaron Cruden 2. Strafdoele: Cruden 3.
Bulle (9) 12. Strafdoele: Handré Pollard 4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Genade Wim ! Sowat van aanprys vir ‘n pak slae van 3 drië teen 0 het ek lanklaas ervaar. Hierdie lyk na ‘n laaang en swaar jaar vir ons met blou bloed. Eish !

Frans C ·

Die Bullehet goed daarin geslaag om balbesit vir groot gedeeltes te oorheers en die Chiefs se besit te vertg.Dit alleen isnie goedgenoeg nie,want dit plaasnie punte op die telbord nie.

Arie ·

Net een verandering nodig – AFRIGTER!!!!!!!!!!!!!!!!!!!’ En sorry BESTUUR wat die huidige afrigter aangestel het en verseg om hom te vervang

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.