Verbode middels: woon die Iere in glashuise?

Gerbrandt Grobler (Foto: Munster Rugby)

ʼn Mens wonder of die Iere in ʼn ander rigting sou gekyk het as Gerbrandt Grobler, die slot van Munster se rugbyspan, nie ʼn Suid-Afrikaner was nie.

Daar heers nou tweespalt in Ierse rugbykringe nadat Munster verlede jaar vir Grobler na Limerick gelok het.

Hy was lank beseer en sal na alle waarskynlikheid Sondag sy senior buiging vir Munster teen Castres in die Europese Kampioenebeker-reeks maak.

Maar nou is die gort gaar.

Grobler, wat aan Afrikaans Hoër in Pretoria op skool was (sy afrigter, Johann van Graan, is ook ʼn oud-Affie en sal soos sy Munster-spanmaats vir Grobler ondersteun) is in 2014 positief getoets vir ʼn verbode middel toe hy vir die Westelike Provinsie gespeel het.

Hy het sy pak gevat, is vir twee jaar geskors en nou wil hy jong spelers van die gevare daarvan leer. Ná sy skorsing in 2016 het hy vir Racing92 in Frankryk gespeel voordat hy na Munster gelok is.

Chris Henry, die Ulster-flank wat 24 keer vir Ierland gespeel het, is erg omgekrap oor Munster se besluit om Grobler te kies, want hy sê dit stuur ʼn verkeerde boodskap uit.

Conor Murray en Peter O’Mahony, twee van Grobler se Munster-spanmaats, skaar hulle by hul spanmaat en sê hy kan ʼn belangrike rol speel om jong spelers op te voed en te oortuig om die regte paadjie te stap.

♦  Dis prysenswaardig dat die Iere standpunt oor verbode middels inneem, maar het hulle so gou van Ierse sportmanne en -vroue vergeet wat ook positief getoets is?

Wat van vier van die groot opkikkerskandale waarby Ierse legendes betrokke was?

In 1996 het die legendariese Ierse swemmer, Michelle de Bruin, drie goue medaljes op die Olimpiese Spele in Atlanta gewen. Sy is buiteseisoens getoets, maar toe die urienmonster in Barcelona oopgemaak is, het dit sterk na whiskey geruik en sy is skuldig bevind dat daarmee gepeuter is.

In 2004 is die perderuiter Cian O’Connor, die enigste Ier wat ʼn medalje op die Olimpiese Spele in Athene kon wen, van sy medalje gestroop en vir drie maande geskors nadat sy perd, Waterford Crystal, op die perdespringbyeenkoms positief getoets is.

In 2008 in Beijing is nog ʼn Ierse perderuiter, Denis Lynch, ook vir drie maande geskors nadat sy perd, Lantinus, kort voor die byeenkoms positief getoets is.

In 2012 is die Ierse marathonatleet Martin Fagan vir twee jaar geskors oor ʼn vebode middel.

En so kan ons aangaan …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.