Vereeniging maklik baas teen NWU Vaal Pukke

vereenigingVereeniging het die afgelope Saterdag sy jaarlikse derby teen die NWU Vaal Pukke in die opstellende ronde van die Valke se Peregrineliga oortuigend 43-17 gewen.

Francois Penning, die klub se voorsitter, sê die studente het vroeg in die wedstryd toegeslaan en die eerste drie gedruk, maar daarna het Vereeniging met yslike verdediging en briljante samespel die Pukke van hul voete af gespeel.

“Hoewel Vereeniging sonder agt van sy staatmakers gespeel het, het  die span steeds `n voortreflike spelpeil gehandhaaf en sy fisiekheid was een te veel vir die manne van die Puk.

“Die monsteragtige linkervleuel van Vereeniging, Arno Poley, was die doring in die Vaal Pukke se vlees. Poley staan 1,94 m hoog en weeg oor die 100 kg. Hy het die verdedigers met sy kraglopies en vaart laat bontstaan en uiteindelik drie pragdrieë gedruk en sy getal vir die seisoen tot 13 opgestoot.

“Die heelagter en puntemasjien, Hendrik Smit, wat al 111 punte die seisoen opgelewer het, is met `n drie beloon en het vier van die drieë verdoel.”

Penning sê Vereeniging se tweede span is steeds die enigste onoorwonne span in die opstellende ronde, en het die Vaal Pukke se tweede 62-3 oorrompel en in alle fasette van die spel oorheers. Sy groot agttal het die Vaal Pukke dermate in die skrums vermorsel dat onbetwiste skrums vroeg in die eerste helfte ingestel is.

“Die vleuel Deon Hendrikz het twee pragdrieë gedruk. Die groot slot Johan Groenewald se kraglopies was verbysterend en hy het keer op keer in die middelveld deurgebars. Goeie samespel het vir al nege Vereeniging se drieë gesorg.”

Vereeniging se o.21-span, wat dié seisoen reeds 17 Valke-o.20-spelers opgelewer het, wat gevolglik nie beskikbaar is nie, het op sy beurt 31-10 gewen, maar sal besef hy het talle kanse verspeel om meer punte aan te teken.

“Hoewel die manne van Vereeniging die vaste fasette, veral die skrums oorheers het, het swak afronding en besluitneming hulle `n hele paar drieë gekos.

“Die vleuel, Henlo Keyser, het ‘n pragdrie gedruk, wat sy total vir die seisoen tot 11 opskuif, en die kaptein, Pleij van den Broek, het reeds 82 punte die seisoen opgestapel.”

Penning sê Vereeniging groet eersdaags sy staatmaker-binnesenter, Zwerus (Zot) Evers, wat weens `n beter werkgeleentheid verhuis, en sy rugbyloopbaan elders sal voortsit.

“Sy bydrae die afgelope twee jaar was ongelooflik en hy is verlede as klubspeler van die jaar aangewys. Hy sal baie gemis word en die klub wens hom sterkte vir sy nuwe uitdaging toe.”

Vereeniging kom in sy laaste opstelwedstryde teen Sasolburg te staan daar is groot afwagting vir die terugkeer van staatmakers soos Corné Uys, Marchant Genis, Koos Bosman, Quintin Petzer, Quintin Minnaar en Jurgens Lambrechts wat weer beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.