Verenigde Rugbykampioenskap: Goosen moet die goue eiers lê

Johan Goosen. Foto: Pascal Guyot/AFP.

Daar is ’n ou-ou wysheid in rugby dat jy nie belangrike wedstryde sal wen nie tensy jy ’n wedstrydwenner in die nr. 10-trui het.

Dink maar terug aan suksesvolle Springbok-spanne van weleer, aan Bennie Osler, Hannes Brewis, Naas Botha, Joel Stransky en Morné Steyn.

Dink maar terug aan verlede Saterdag se Rugbykampioenskapstoets toe Handré Pollard die kluts teen die Wallabies kwyt was.

Dink maar aan die All Blacks se Dan Carter, aan Johnny Wilkinson van Engeland.

Dit is hoekom die Bulle die vaandel van die vier Suid-Afrikaanse franchises kan dra wat oor die volgende paar maande die eer van Suid-Afrikaanse rugby by die Verenigde Rugbykampioenskap moet verdedig.

Dit kan een van die Stormers, Haaie en Leeus se remskoene op toer wees: gebrek aan ʼn losskakel wat kan beheer, die toutjies trek wanneer dit nodig is, die bal deur die pale kan jaag.

Vergeet maar van die nederlaag van 35 – 8 wat die Bulle op 19 Junie in Treviso in die eindstryd van die Reënboogbeker-reeks teen Benetton gely het.

Die Bulle het onder meer slae gekry omdat hulle nie ʼn losskakel gehad het wat dié dag die toutjies kon trek nie.

Met Johan Goosen nou agter die stuur, behoort dit stukke beter te gaan.

Ja, enige span sal sukkel sonder stutte en ʼn haker wat nie kan skrum nie, slotte wat nie kan spring nie, losvoorspelers wat nie balle kan uitdelf en têkkel nie, skrumskakels wat nie die bal behoorlik kan uitgee, of takties goed skop, aan begaafde senters, vleuels en ʼn heelagter nie.

Maar die heel belangrikste is ʼn losskakel, die een speler wat die wedstryd moet oorheers, die bal voor die voorspelers hou, kanse vir sy buiteagterspelers skep en met sy taktiese skoppe en skoppe pale toe die telbord aan die rol kan hou.

In Goosen het die Bulle so ʼn losskakel (Jake White het dit maande gelede besef toe hy sy net wyd gespan het) en kan die Bulle rugbygeskiedenis maak.

Hy is saam met agt ander Springbokke die spil waarom die Bulle se aanslag draai.

Dit gaan vir die Bulle, Stormers, Haaie en Leeus nie maklik wees om van byna nêrens af in Europa aan te pas nie.

Ander speeltoestande, ander vertolkings van die reëls, ondersteuners wat jou bloed soek, veral omdat jy langer as ʼn jaar sonder toeskouers gespeel het.

As jy boonop sonder ʼn losskakel is wat nie kan oorheers nie, kan die oorsese deel van die reeks in ʼn nagmerrie ontaard.

Bulle se groep: Voorspelers: Lizo Gqoboka, Simphiwe Matanzima, Gerhard Steenekamp, Mornay Smith, Jacques van Rooyen, Robert Hunt, Bismarck du Plessis, Jan-Hendrik Wessels, Joe van Zyl, Sidney Tobias, Schalk Erasmus, Walt Steenkamp, Sintu Manjezi, Reinhardt Ludwig, Ruan Nortjé, Janko Swanepoel, Arno Botha, Marcell Coetzee, Jacques du Plessis, Muller Uys, Elrigh Louw, WJ Steenkamp.

Agterspelers: Zak Burger, Embrose Papier, Marco Jansen van Vuren, Keagan Johannes, Johan Goosen, Chris Smith, Cornal Hendricks, Harold Vorster, Lionel Mapoe, Stedman Gans, Kurt-Lee Arendse, Madosh Tambwe, Stravino Jacobs, Ruan Combrinck, David Kriel.

Bulle se bepalings oorsee: Saterdag 25 September: Leinster; 1 Oktober: Connacht; 9 Oktober: Cardiff; 16 Oktober: Edinburgh.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.