Vergeet die verlede; Saterdag is dit man teen man

In ʼn eindstryd is daar nie tyd en plek vir dinge soos die geskiedenis en statistiek nie.

Dit sal die Lions en die Hurricanes wel Saterdag in die Superrugby-halfeind (14:30) op Ellispark uitvind.

En net sowel vir die Lions, as jy kyk na die twee spanne se elf wedstryde oor die jare teen mekaar. Die Lions het een gewen (in 2007), die Hurricanes tien. En verlede jaar het die Lions met 3-20 in Wellington en 17-50, nogal op Ellispark, verloor.

Maar net so het die Crusaders vanjaar alles voor hulle weggevee – en toe teen die Hurricanes vasgeval, wat geen duit omgegee het vir Saders wat in die vorige 14 wedstryde alles voor hulle weggevee het nie.

Die Hurricanes het vanjaar 93 drieë gedruk – verreweg die meeste in die reeks met die Lions se 83 wat die tweede meeste is. Maar dít beteken nie noodwendig die Hurricanes hardloop meer nie.

Goed, wedstrydplanne is deel van die spel en van sukses, en dit wissel van wedstryd tot wedstryd. Tog dui die syfers daarop dat die Lions die bal meer gedra het, meer meters afgelê het, meer teenstanders geklop het, minder duikslae moes uitvoer en persentasiegewys minder verbroude duikslae gehad het. Die Hurricanes het ook meer as die Lions geskop (dikwels na die vleuels toe wat so gaan druk het!).

Die Canes se tref-sukses met hul skoppe is swakker – maar dan moet Elton Jantjies weer op peil wees die naweek om hierdie vooordeel uit te buit. Onder meer is Jordie Barrett ʼn veel beter stelskopper as sy broer Beauden en het die Hurricanes heelwat beter gevaar vandat Jordie die skopwerk oorgeneem het.

Durf, aggressie en oordeel gaan egter Saterdag die wenner bepaal, nie die statistiek teen verskillende teenstanders nie.

Die Hurricanes glo hulle het die beste pak in die reeks. Hulle is groot, ervare en vaardig. Franco Mostert se vermoë om balle in die lynstane te steel, kan die Canes van besit en ook selfvertroue ontneem.

Soos die Lions, sal die Hurricanes se voorspelers, benewens hul uitstekende tegniek by die afbreekpunte, natuurlik ook hul deel in die aanvallende spel doen.

Dit sal ongetwyfeld fisies wees en albei spanne sal ongetwyfeld hardloop waar hulle kan. Oordeel en vaardigheid sal hier die deurslag gee, en ook die lugdruk, wat in ʼn taai, vinnige wedstryd aan die Lions daardie effense voordeel sal gee.

Geskiedenis? Nee wat, dit bepaal nie wedstryde nie. Ook nie die genoemde syfers wat teen heel ander teenstanders bepaal is nie.

Dit gaan Saterdag man teen man en span teen span wees – en al wat ʼn mens weet, is dat die Lions sal moet beter as teen die Sharks.

Die spanne –

Lions
15 Andries Coetzee, 14 Ruan Combrinck, 13 Lionel Mapoe, 12 Harold Vorster, 11 Courtnall Skosan, 10 Elton Jantjies, 9 Ross Cronjé, 8 Ruan Ackermann, 7 Kwagga Smith, 6 Jaco Kriel (kapt.), 5 Franco Mostert, 4 Andries Ferreira, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Jacques van Rooyen. Bank: 16 Akker van der Merwe, 17 Corné Fourie, 18 Johannes Jonker, 19 Lourens Erasmus, 20 Cyle Brink, 21 Francois de Klerk, 22 Rohan Janse van Rensburg, 23 Sylvian Mahuza.

Hurricanes
15 Jordie Barrett, 14 Nehe Milner-Skudder, 13 Vince Aso, 12 Ngani Laumape, 11 Wes Goosen, 10 Beauden Barrett, 9 Thomas Perenara, 8 Brad Shields, 7 Ardie Savea, 6 Vaea Fifita, 5 Sam Lousi, 4 Mark Abbott, 3 Jeffery To’omaga-Allen, 2 Dane Coles (captain), 1 Ben May. Bank: 16 Ricky Riccitelli, 17 Chris Eves, 18 Loni Uhila, 19 Reed Prinsep, 20 Callum Gibbins, 21 Te Toiroa Tahuriorangi, 22 Otere Black, 23 Julian Savea.

Afskop: 14:30
Skeidsregter: Jaco Peyper (SA).
Assistentskeidsregter: Marius van der Westhuizen en Rasta Rasivhenge (albei SA)
Televisie-skeidsregter: Marius Jonker (SA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Genieve ·

Ons sal op ons hoede moet wees want die Hurricanes kom om ons af te traf.Lions julle moet speel met die bal en nie dit wil wegskop nie..hardloop rugby gaan in ons guns tel.Vir Elton Jantjies jy moet Saterdag gefokus wees my ou maat ons staan bankvas agter julle..Go Lions!!! Go!!!

Nico K ·

Ek stem saam. Geskiedenis tel niks. Die Haaie het hierdie jaar baie swak wedstryde gehad. (Gelykop teen die laagste span, die Rebels, op hul tuisveld!) En amper is hul deur na die halfeidstryd. So enige iets kan gebeur. Die Chiefs kan nog die Crusaders wen!

Josua Keys ·

As die Lions speel soos teen die stormers n paar weke terug sal geen span hulle klop nie en ja Jantjies vergeet maar van die grabbas en speel hardloop rugby, kry eers die punte op die telbord die res sal dan met instink gebeur.

Kosie ·

Whiteley se afwesigheid gee die Hurricanes ‘n gelyke kans. Lions lyk ongelukkig nie na dieselfde span sonder Whiteley nie. Ons hoop maar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.