Klop Ierland en wen aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan.
Dis miskien ʼn bietjie vergesog om nou al só ʼn voorspelling te maak met nog 11 maande en 8 dae oor voordat Japan in die eerste wedstryd op 20 September teen Rusland speel, maar doen ʼn bietjie huiswerk en dis dalk in die kol.
As ʼn mens Vrydagaand se vertoning van Leinster teen London Wasps in die Europese Kampioenereeks in ag neem, is dit nie onmoontlik nie.
Leinster, Europa se huidige kampioenspan, het Wasps (met onder meer Willie le Roux, Elliot Daly, Juan de Jongh, Lima Sopoaga, Brad Shields en Nizaam Carr in die uitdrafspan) met 52-3 vermorsel.
Die Iere was klinies en uiters vaardig in alle fasette van die spel. Op die oog af is daar nie swak plekke nie en hulle het agt drieë gedruk.
Hulle is baie goed afgerig, het die basiese vaardighede onder die knie, benut hul kanse en hul verdediging is uit die boonste rakke.
Voeg nog ander wedstrydwenners van Munster, Ulster en Connacht soos Keith Earls, Bundee Aki, Conor Murray, Rory Best, Iain Henderson, Peter O’Mahony en CJ Stander daarby en dis hoekom ʼn mens die Iere so hoog ag.
Dis ook hoekom die Springbokke se eerste Wêreldbeker-wedstryd op 21 September teen die All Blacks in Japan so belangrik sal wees.
Die wenspan sal ʼn amperse vrypas na die halfeindronde hê (dit sal na alle waarskynlik teen Skotland speel), maar op die verloorder wag Ierland in die kwarteindronde
Ja, as jy die toernooi wil wen, moet jy alle spanne kan klop (soos die Bokke in 1995 en 2007).
Maar as jy die Iere vroeg kan vryspring, is jou kanse mos beter.
Die Iere kan ook aanstaande maand die eerste keer sedert Wêreldrugby (of die ou Internasionale Rugbyraad) se ranglys bekend gestel is, die All Blacks uit die eerste plek lig as hulle die stryd in Dublin wen en die All Blacks ook pak kry teen Engeland.
Dit sal bykomende druk op die Iere plaas om verwerk en bo te bly, maar dit kan hul selfvertroue nog meer die hoogte laat inskiet, veral as Johnny Sexton en Murray beseringsvry bly.
Viva Rugby Viva !!!
Ierland sal weer choke by die eerste uitspeelwedstryd, soos altyd… Net soos die Proteas, dit is die spanne wat choke op die groot dag.
Die Iere kan maar choke. Hul het 1000 keer minder speler as Suid afrika. Bokke kry ver teveel geld. Dit is hul probleem.
Die moontlikheid dat die All Blacks teen Ierland EN England verloor, is wensdenkery…
‘n Kampioenspan moet alles wat voorkom wen en nie op loting staatmaak nie.