Vergeet van no. 2, vir baie is Marx no. 1

Malcolm Marx.  Foto: GB Jordaan.

Kom ons wees eerlik met mekaar: Baie Springbok-ondersteuners sou daarvan gehou het as Malcolm Marx vir Joseph Dweba in die Suid-Afrikaners se opdrafspan vervang het. Veral in ’n Rugbykampioenskap-toets teen die Wallabies weg van die huis; Australië is immers ’n plek waar Suid-Afrika nie té gereeld ’n rugbywedstryd wen nie.

Helaas sal Dweba weer op haker begin, terwyl Duane Vermeulen en Elton Jantjies ook weer speelkans kry – alles kwansuis met die oog op die komende Wêreldbeker-toernooi in Frankryk.

Ja, alle paaie het inderdaad 2 000 jaar gelede na Rome gelei, maar selfs Verdwalius Sonderpadkaartus het geweet dat die Via Appia seker die maklikste roete na die stad is.

Net so blyk dit of Marx in die no. 2-trui tans die kortste pad na moontlike Wêreldbeker-glorie kan wees.

Die 28-jarige voorspeler het ’n barshou in die eerste toets teen die All Blacks op die Mbombela-stadion gespeel, terwyl hy ’n week later ’n definitiewe verskil as Dweba se plaasvervanger op Ellispark gemaak het. Hy is betroubaar, talentvol en skroom nie om vuur met vuur te beveg nie.

Nick Mallett het juis in een van sy rubrieke geskryf dat Marx meer trefkrag in die Bokke se beginvyftiental kan hê.

Jacques Nienaber. Foto: Twitter.

Maar Jacques Nienaber en die res van sy afrigterspan sien dinge nie noodwendig so in nie.

“Ons glo dat dit belangrik is om vir spelers soos Ox (Nché), Joseph, en Duane nog ’n geleentheid te gee met die oog op volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi,” het Nienaber gister gesê toe die span vir die Adelaide-toets aangekondig is.

Volgens die Springbok-afrigter is daar nie iets soos no. 1 of no. 2 in die Springbok-groep nie: Die voorryspelers op die veld en die voorryspelers op die plaasvervangersbank word as een hegte eenheid gesien.

Maar in die tweede toets teen die All Blacks het Marx – wat op die plaasvervangersbank was – aansienlik beter spel as Dweba – wat in die opdrafspan was – gelewer.

Hoewel dit baie edel is om al die spelers oor dieselfde kam te skeer, moet iets soos spelpeil ook ’n deurslaggewende rol in die uiteindelike samestelling van die span speel.

 Foto: Odd Andersen/AFP.

Op Ellispark het Dweba net een keer die bal gedra en een Nieu-Seelander getêkkel, terwyl hy ook met sy ingooie by die lynstane gesukkel het. Daarteenoor het Marx 11 suksesvolle duikslae uitgevoer, omgekeerde balbesit bewerkstellig en suiwer diens in die lynstane gelewer.

“Daar is ’n taktiese en ’n tegniese rede waarom ons die span op so ’n manier kies. Ons wil nie veel van ons wedstrydplan verklap nie, maar daar is ’n rede waarom ons dinge so doen en die spelers verstaan dit en het begrip daarvoor.”

Hopelik lewer Dweba hierdie Saterdag ’n uithalervertoning teen die Wallabies terwyl Marx en kie in die tweede helfte die finale uitklophou plant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Frank ·

Dink nie wanneer jy Speler van die Wedstryd in ‘n wereldbeker eindstryd is, jy “weer geleentheid om jouself te bewys” behoort te kry nie. Al was Duane beseer, het hy dit in sy “genes” om weer daardie vlak te bereik. Thor behoort outomaties gekies te word.
Maak net seker hys wedstrydfiks.

Elma ·

Duane hoort daar. Elton – not so much!
Marx is n uitstekende speler en hoort heel wedstryd op die veld.

vuurvliegie ·

En die sirkus gaan aan. Nienaber is n verleentheid vir Bok rugby

Koos 100 ·

Plaas ons praat eerder reguit. Die politieke base moet gelukkig gehou word, anders is die helfte van die afrigting span werkloos!

kaplyn ·

Jy kan nie toetse gebruik as proefwedstryde vir volgende jaar se wêreldbeker nie. Dit is al voorheen gesê op die kommentare , ‘n toets is ‘n toets en nie ‘n proefwedstryd nie!

Niklaas ·

Dis maar onwys om kerels soos Duane , Dweba en Elton weer speelkans te gee. Selfs as reserwe. Ons rugby- wedstryd geskiedenis in Australië lyk nie te goed nie. Maar mens moet maar hoop vir die beste met die komende 2 Saterdae !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.