Vergete Blitsbok laat hom in Amerika geld

ʼn Vergete Blitsbok het hom Saterdag met mening in die halfeindronde van die Amerikaanse Senior Rugbyliga (MLR) laat geld.

Joe Pietersen (heelagter), ʼn laat toevoeging tot die span, het 14 van San Diego Legion se punte in sy nederlaag van 24-38 teen die Seattle Seawolves behaal.

Hy het ʼn drie gedruk en ʼn 100%-skoprekord met drie doelskoppe en ʼn strafdoel gehandhaaf.

Pietersen (34), wat die afgelope tyd in een van die laer Japanse ligas gespeel het, het in 2004 vir die Blitsbokke gespeel, en van 2006 tot 2016 die Stormers, die Cheetahs en die Sharks in Superrugby verteenwoordig.

In die ander halfeindstryd het die Glendale Raptors met 34-21 teen die Utah Warriors gewen.

Glendale se kaptein en skrumskakel, Shaun Davies, ʼn oudleerder van Westville Boys’ High in Durban, het een van sy span se vyf drieë gedruk.

Vir Utah het die oud-Tukkie en gewese Blou Bulle-sewesspeler Ben Nicholls twee doelskoppe behaal.

Seattle en Glendale pak mekaar eerskomende Saterdag op die Torero-stadion, San Diego, in die eindstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.