Vergete Springbok skop 16 punte in Japan

ʼn Haas vergete Springbok het Sondag 16 punte in Japan behaal om sy span te help om sy wedstryd in die land se Topliga met tien punte te wen.

NTT Docomo Red Hurricanes het Kintetsu Liner met 31-21 verslaan, danksy veral vier strafdoele en twee doelskoppe deur Riaan Viljoen.

Hy het in 2009 saam met die Bokke in Europa getoer, en in die wedstryde teen Frankryk A en die Franse Barbarians gespeel.

Wat die res betref, was die puntemakers uit Suid-Afrika meestal aan die verloorkant.

Coenie van Wyk (losskakel), wat Superrugby vir die Lions en die Cheetahs gespeel het, het Vrydag 15 punte vir Toshiba Fuchu Brave Lupus aangeteken, maar Kobelco Steelers het die wedstryd met 32-25 gewen.

Van Wyk het ʼn drie gedruk, twee drieë verdoel, en met twee strafdoele geslaag.

Lionel Cronjé (losskakel), ʼn gewese SA o.20-speler wat vanjaar nog Superrugby vir die Kings gespeel het, het op sy beurt Saterdag drie strafdoele en doelskop in 11 punte vir Toyota Verblitz omskep, maar sy span het met 16-43 teen Panasonic Wild Knights verloor.

Francois Brummer, wat verlede jaar vir Suid-Afrika A teen die Engelse Saxons gespeel het, het ʼn drie en twee doelskoppe vir Toyota Shokki Shuttle aangeteken, en die Bok-senter JJ Engelbrecht ʼn drie, in hul span se nederlaag van 24-32 teen NTT Shining Arcs.

Grant Hattingh, ʼn gewese Lions- en Bulls-voorspeler, het ʼn drie vir Kubota Spears gedruk, wat met 17-54 teen Suntory Sungoliath verloor het.

Gerhard van der Heever, wat Superrugby vir die Bulls en die Stormers gespeel het, was darem ook aan die wenkant.

Sy twee doelskoppe het Yamaha Jubilo gehelp om met 69-21 teen Canon Eagles te wen

Die Springbok-flank Jacques Potgieter het ʼn geel kaart in sy span, Munakata Sanix Blues, se kragmeting teen NEC Green Rockets gekry.

Laasgenoemde het met 29-17 gewen.

Australië

♦ In die Australiese Nasionale Rugbykampioenskap het Waldo Wessels, ʼn gewese Johannesburger en die skrumskakel van die Greater Sydney Rams, ʼn drie vir sy span teen Melbourne Rising gedruk.

Rising het met 41-33 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.