Verlang SA se spanne dan sóveel as hulle oorsee is?

Waar lê die fout dat Suid-Afrikaanse spanne oorsee so sukkel?

Dis maklik om te sê dit is te wyte aan die uittog van Suid-Afrika se voorste rugbyspelers en -afrigters en dat ons franchise’e nie die talent het om mededingend te wees nie.

Terwyl daar stukkies waarheid in dié opvatting steek, is dit ʼn algemene, ondeurdagte stelling.

Miskien is dit nader aan die waarheid om te sê dat daar iewers in ons spelers se rugbykoppe iets verkeerd is.

Hoe verklaar jy dat die vier Suid-Afrikaanse franchise’e net twee uit 17 wedstryde oorsee gewen het?

Voeg daarby dat die Cheetahs net twee van hul nege oorsese wedstryde gewen het, en steeds goed genoeg gevaar het om in die boonste ses van die Pro14-reeks te eindig waarin spanne soos Munster, die Cardiff Blues, Leinster, en Glasgow Warriors meeding.

(Ons los die Kings maar liewer uit. Daar is ander faktore wat hul vertonings en vooruitgang gerem het.)

Dus: net vier uit 26 wedstryde oorsee is gewen. Dis is 15,4%.

Niemand kan tog wil beweer die Sunwolves is beter as die Stormers nie; niemand kan sê die Reds is beter as die Lions wat teen hulle verloor het (20-27) ʼn week nadat Swys de Bruin-hulle met 29-0 teen die Waratahs in Sydney gewen het nie.

Hoe kon die Lions in Auckland teen die Blues verloor het, een van dié sukkelende span se skrale twee seges vanjaar? En hoe kon die Sharks met 14-46 teen die Melbourne Rebels pak gekry het, en die Bulls rustyd met 14-3 voor wees teen die Reds in Brisbane en dan met 14-20 verloor?

Die Lions het tot dusver vanjaar net een van hul vyf oorsese wedstryd gewen; die Bulls en die Stormers saam nul uit agt, en die Sharks een uit vier.

Die Stormers en die Sharks moet nog Argentinië toe waar die Jaguares die Lions met 49-35 geklop het nadat die Lions vier weke vantevore op Ellispark met 47-25 baas was.

Verlede week het die Jaguares die Bulls met 54-24 afgeransel.

Nog slae vir die Kapenaars en die Sharks?

Dit is boonop nie net teen die Nieu-Seelandse spanne dat daar gesukkel word nie. Suid-Afrika word in so ʼn mate deur die Aussies gering geskat dat hulle geluide gemaak het hulle wil voortaan net teen Nieu-Seelandse spanne speel.

Neem jy in ag dat die Aussies verlede naweek die eerste keer in 40 probeerslae ʼn oorwinning op Supervlak teen die Kiwi’s behaal het, klink hierdie “wens” van hulle na pure bog. Maar Suid-Afrika het self ʼn powere rekord van net meer as 11%-oorwinnings in Nieu-Seeland sedert 2016 en ons oorsese rekord teen Australiese spanne staan die afgelope drie jaar op minder as 40%.

Die algemene rekord van oorsese oorwinnings word verder beïnvloed deur die Jaguares wat skielik begin stem dik maak het. Die Lions het nou drie uit hul drie probeerslae in Argentinië verloor.

Is kopskuiwe nodig? Beslis.

Hoe? Dit moet bepaal word, en hoe gouer hoe beter ‒ veral as jy besef dat die Springbokke net drie van hul laaste 13 toetse oorsee gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Napoleon ·

Hulle word dalk maar net oorweldig deur die normale omgewings in die buiteland.

Frans C ·

Dit het met leierskap te doen.Spanne wen tuiswedstryde omdat hul dan in hul gemaksones is en die meeste van die tyd op die toeskouers se ondersteuning kan staatmaak.
Oorsee lyk hul nie op hul gemak nie en word hul speelpatroon gewoonlik so ontwrig dat
dit soos met die Bulle in een van hul swakste wedstryde teen die Jaquares ontaard.

Sterk leiers is nodig om patroon en spelers bymekaar te hou.’n Sterk leier sou bv nie toegelaat het dat die Stormers kop teen die Sunwolwes verloor.Gegewe die bloedig warm omstandighede moes daar besluit gewees het om die wedstryd te be-eindig en met twee punte huitoe te keer.

Die Lions val uitmekaar in die eerste klompie minute teen die Reds.Wie was vir dit verantwoordelik dat die spelers nie onmiddellik aangeskakel was nie?Waar was die ervare spelers wat moes gewaarsku het teen die vroeë aanslag?

Stan ·

@ Frans C “Waar was die (RSA) ervare spelers wat moes gewaarsku het”, vra jy?? Hulle was in Canberra, Sydney, Melbourne, Perth & Brisbane. En as dinge in Suid-Afrika so aangaan sal jy Bafana-Bafana spelers ook daar kry!!!

Frans C ·

Sonder Warren Whiteley,Jaco Kriel ens is die Lions net nie dieselfde span as wat hul laasjaar was nie.Jy het ouens nodig wat kan kophou as dinge broekskeur gaan,want spelers sonder leiding , speel dan nie meer as ‘n eenheid saam nie en konsentreer te veel op hul eie spel,pleks om geleenthede vir spelers in beter posisies te skep.

Dit is wat die NZ-spanne so goed maak,hul spelers skep geleenthede vir mekaar en speel die volle 80 minute soos die Chiefs teen die Sharks al is 20 van hul voorste spelers nie beskikbaar nie.
Haal 20 spelers uit enige Super 15 span van Suid Afrika uit en niks bly oor nie,want ons spanne val plat as ‘n paar senior spelers nie beskikbaar is nie,

Dit het te doen met die feit dat van Suid Afrika se Bokspanne en sommige Pronvinsiale spanne oor uitsonderlike spelers beskik het om wedstryde op eie te wen.Kyk bv die Curriebeker eindstryd van 1987 waar Naas Botha Transvaal eiehandig klop,24-18 klop,met 4 skepskoppe en 4 strafskoppe.
Transvaal was 18-15 voor mwr 10 minute speeltyd het twee drieë teen nul van Noord Transvaal gedruk,maar Botha het ander planne gehad en met ‘n verdere 9 punte van sy skoen was Transvaal se doppie geklink. Botha 24 Transvaal 18.
Sonder Botha sou Noord Transvaal dit nie gemaak het nie,in wedstryd wat in gietende reën gespeel is en daar ‘n emmer oor die beker geplaas is,om te keer dat dit vol reën.

rollie ·

Ek dink tog gehalte het iets daarmee te doen. Vat nou die AB’s, hulle wen gewoonlik ook weg van die huis in teenstelling met alle ander spanne. Dit wys jou maar net dat hulle soveel beter is as die ander spanne dat hulle enige struikelblokke wat gepaard gaan met weg speel makliker kan oorkom. En natuurlik as jy so baie soos hulle oorsee wen, versterk dit net jou selfvertroue.

Lol ·

Hoeveel SA spelers op enige gegewe Superrugby wedstryd is huidiglik beter as hul opponent? Ek praat van ” complete” speler, nie spelers wat net goed is in een spesifieke aspek nie. Miskien 3 of 4 per wedstryd. Daar is die antwoord?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.