Verlede wys besoekende span se halfeindkanse is maar skraal

ʼn Halfeind is nooit ʼn lekker ding nie. Dis reg of weg vir die verloorder – selfs al het hy sy halfeind-teenstander twee keer in die ligafase van ʼn kompetisie geklop.

Saterdag is dit weer sulke tyd in die Curriebekerreeks wanneer daar vir die 64ste keer sedert 1939 ʼn halfeind gespeel word. En as die laaste 21 Curriebekerjare sedert 1996 ʼn aanduiding is, is die besoekende spanne, die Blou Bulle in Durban en die Goue Leeus op Nuweland, se wenkanse maar skraal.

Verskillende kompetisiestrukture

Die eerste eindstryd was in 1939. Sedertdien is die Curriebekerwenner 58 keer in ʼn eindstryd beslis, en van 1954 aan en af met die spanne wat in halfeindwedstryde bepaal is.

Saam met die dikwels ondeurdagte veranderinge deur die jare aan die Curriebekerreeks se struktuur en kompetisiereëls is daar ook die deurmekaar wyse waarop die eindstrydspanne van tyd tot tyd bepaal is:

  • In sommige jare is die Curriebekerreeks in drie afdelings beslis, met die een afdelingwenner wat direk na die eindstryd deurgegaan het sonder om ʼn halfeindwedstryd te speel.
  • Daar was ook jare dat geen halfeindwedstryde gespeel is nie en die twee afdelingswenners direk na die eindstryd deur is.
  • Die kompetisie is ook in ʼn enkele afdeling gespeel met die twee voorste spanne wat dan in die eindstryd gespeel het.
  • En dan was daar die tyd in die 1980s-’90s toe daar twee afdelings was, met die beste spanne in die A-afdeling. Die tweede beste span het dan in die enkele halfeind teen die B-afdeling se wenner uitgespeel.

Die naweek se halfeindwedstryde

Bepaal ons ons egter by die komende naweek se twee halfeindstryde op Kingspark tussen die Sharks en die Blou Bulle, en op Nuweland waar die Westelike Provinsie en die Goue Leeus kragte meet, is daar ʼn paar interessante waarnemings.

Die vier spanne in die halfeind is die vier wat ook elk die meeste kere die Curriebeker gewen het. Die WP (33 waarvan vier gedeel) en Noord-Transvaal/Blou Bulle (23, waarvan vier gedeel) word gevolg deur Transvaal/Goue Leeus (10) en Natal/Sharks (7).

Natuurlik beteken hierdie, en ook die volgende statistieke van die verlede, absoluut niks met die oog op Saterdag se wedstryde nie.

  • Die Westelike Provinsie het die meeste kere sake in ʼn halfeind moes uitspook. Van die 25 halfeindstryde het hulle 16 gewen en nege verloor.
  • Die Blou Bulle en hulle voorgangers Noord-Transvaal het van hulle 22 halfeindstryde 17 gewen en net vyf verloor; die Sharks/Natal se telling is 12 wenne in 23 wedstryde en dié van die Goue Leeus/Transvaal 11 uit 20.

Tuisveldvoordeel en die meeste punte in die ligafase is veral volgens die afgelope jare se statistieke steeds nie noodwendig ʼn waarborg vir sukses nie. Daar is in die onlangse reekse, van 1996 af, heelwat minder gevalle as voorheen waar die halfeind deur die besoekende span gewen is.

Die rede kan miskien gesoek word in die feit dat die voorste span in vroeër jare nie noodwendig die eindstryd aangebied het nie. Die span wat dit die vorige keer gedoen het, moes, afhangende van sy teenstander, dikwels die tuisveldvoordeel afstaan.

In die eerste 24 halfeindstryde tussen 1954 en 1987 is 14, oftewel 58%, deur die besoekende span gewen. Toe was daar tot 1996 geen halfeindwedstryde nie omdat die voorste twee spanne in die A-afdeling van die reeks in die eindstryd gespeel het.

Van 1996 tot 2016 het die besoekende span net 11 uit 40 keer die halfeind gewen (27%).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rupert Ashford ·

Ek onthou 1984 so goed. Ons het net in Bloemfontein aangekom. Vrystaat en Noord Transvaal het gelyk 2de in afdeling A geeindig en moes uitspeel in Bloem. Met die eerste skrum vou hulle die bulle soos ‘n stuk papier op. Die Vrystaters wens mekaar geluk elke keer as dit gebeur of as Vrystaat punte aanteken en mens hoor “die beker kom Bloem toe” hoe langer die wedstryd loop (hulle het goed gewen). Volgende Saterdag toe verloor hulle teen Natal wat die B afdeling wenners was en ook WP goed skrikgemaak het in die finaal. Dit was ook die begin van Natal se opkoms as ‘n krag in SA rugby.

Frans C ·

Die Bulle het mi die beste kans om ‘n verrassing te lewer.

KABOUS ·

Die finaal is op Ellispark Leeus en Bulle sal wen Saterdag OPSERVE !!!!!!!!!

Anton ·

Skrywer moet oom asb net aandui. Voor 1939 was dar nie finale nie. So span wat bo geëindig het het die Curriebeker gekry, nie gewen nie. Vandag 1939 wat daar finale was loop die bulle egter ver voor vir meeste oorwinnings in ‘n finaal en sodoende ook meeste keer dan Curriebeker gewen.

KABOUS ·

Let Op DIE FINAAL SAL WEL OP ELLISPARK GESPEEL WORD LIONS EN BULLE !!!!!!! JULLE WEET DAN WIE GAAN DIE KOPPIE LIG DIE TUISSPAN TVLLLLLLLLLL!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.