Verligte Blitsbokke moet Kenia vir kwarteindplek bedank

Die Blitsbokke, Wêreldrugby se 2016/’17-seweskampioen, het Saterdagaand seker darem vir hul Afrikagenote Kenia gaan dankie sê vir hulle hulp om Suid-Afrika na die kwarteind van die Londense toernooi te help.

Hulle speel Sondag (12:42) teen Engeland.

Soos Pale Toe! vroeër Saterdag berig het, sou die Blitse uitgeval het as Wallis teen Kenia gewen en Philip Snyman-hulle teen die VSA verloor het.

Die oomblik was toe vir Wallis te groot en Kenia, wat vroeër met 47-0 deur die VSA geklop is, het Wallis redelik oortuigend met 28-17 geklop.

Dit het beteken dat ʼn neerlaag teen die VSA vir die Blitsbokke niks meer as die posisie in groep A sou bepaal nie.

En ʼn neerlaag was toe wel die Blitsbokke se lot toe hulle redelik maklik met ʼn hele spul foute, veral op die verdediging,  en swak oordeel met 12-24 verloor het. Hulle het daarmee tweede in hulle groep geëindig.

♦  Twaalf was in die groepronde vir die Bokke ʼn belangrike getal, want in al drie hul wedstryde het hulle net 12 punte kon aanteken. Eers is Kenia en toe Wallis albei met 12-10 geklop nadat hulle maklike doelskoppe teen die einde verbrou het, en toe het die Amerikaners Suid-Afrika ook net tot twee drieë beperk.

Waar was die hegte verdediging van vroeëre toernooie? ʼn Ongehoorde agt drieë is in die drie wedstryde afgestaan en net ses is gedruk.

♦  Teen Engeland, wat gesweet het om op hulle tuisveld vir Samoa te bêre, sal dit Sondag moeilik wees om na die halfeind deur te dring as die Blitsbokke nie hul spelpeil aansienlik lig nie.

Die kwarteindbepalings is –

11:58 – VSA vs Australië
12:20 – Nieu-Seeland vs Skotland
12:42 – Suid-Afrika vs Engeland
13:04 – Argentinië vs Kanada

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.