Verloorpaadjie lyk ook na Cheetahs se voorland

Die Southern Kings het Vrydagaand hul Pro14-reeks met ʼn neerlaag in die eerste wedstryd begin, en daar kan nie veel hoop wees dat die Cheetahs Saterdagaand met ʼn oorwinning sal wegspring nie.

Die Kings het met 16-32 verloor nadat hulle rustyd met 7-17 agter was, en ondanks ʼn verbeterde tweede helfte was dit maar weer die ou Suid-Afrikaanse tekortkominge, swak vaardighede, swak verdediging en twee geelkaarte aan  Andisa Ntsila en Bobby de Wee kort voor die einde, wat hulle op die agtervoet gehou het.

Met net 13 Kings-spelers op die veld het Zebre heel voorspelbaar hul laaste doel aangeteken.

Puntemakers ‒
Zebre (17) 32: Drieë: Oliviero Fabiani, Mattia Bellini, Jimmy Tuivati, Apisai Tauyavuca. Doelskoppe: Carlo Canna 4. Strafdoel: 2.
Kings (7) 16: Drie: Michael Botha. Doelskoppe: Masixole Banda. Strafdoele: Banda 3.

Munster vs Cheetahs, Limerick. Afskop: Saterdag 20:15

Kan die Cheetahs Saterdagaand beter as die Kings vaar? Onwaarskynlik.

Hulle speel Saterdagaand teen Munster, een van Europa se voorste spanne, wat verlede seisoen in die halfeind van dié reeks uitgeskakel is.

Die tuisspan het in Februarie 2017 laas ʼn tuiswedstryd, en dit met net ʼn enkele punt, verloor; het albei hul wedstryde verlede seisoen teen die Cheetahs gewen; en het sedert 2009 nog net een keer, ook met net een punt, hul eerste wedstryd verloor.

Manne soos CJ Stander, Chris Cloete en Jaco Taute is nie vir die wedstryd gekies nie. Die Springbok-losvoorspeler Arno Botha draf die eerste keer vir Munster op en die slot Jean Klein is die enigste ander Suid-Afrikaner in die span.

Daar is natuurlik nog ʼn Suid-Afrikaner wat baie nou by die wedstryd betrokke is. Die afrigter Johann van Graan het ʼn goeie eerste agt maande by die klub agter die rug nadat hy by Rassie Erasmus as Munster se afrigter oorgeneem het.

Die Cheetahs het in die 2017/18-seisoen net twee van hul ses wedstryde, albei tuis, teen ʼn Ierse provinsie gewen. Munster was een van min spanne wat die Vrystaters in Bloemfontein geklop het.

Ervaring, ʼn baie simpatieke tuisveld en ʼn Cheetahs-span wat sewe spelers het wat die eerste keer Pro14-rugby speel, maak Munster die ongetwyfelde gunstelinge teen die Cheetahs, waarvan die individuele spelers feitlik almal al aan twee groot loesings in die Curriebekerreeks blootgestel was.

Spanne ‒

Munster
Mike Haley, Darren Sweetnam, Dan Goggin, Rory Scannell, Shane Daly, JJ Hanrahan, Neil Cronin; Dave Kilcoyne, Mike Sherry, John Ryan, Jean Kleyn, Billy Holland (kaptein), Dave O’Callaghan, Tommy O’Donnell, Arno Botha. Bank: Rhys Marshall, Brian Scott, Stephen Archer, Darren O’Shea, Gavin Coombes, James Hart, Joey Carbery, Sammy Arnold.

Cheetahs
Malcolm Jaer, Rabs Maxwane, Benhard Janse van Rensburg, Nico Lee, William Small-Smith, Tian Schoeman, Shaun Venter, Jasper Wiese, Oupa Mohoje (kaptein), Junior Pokomela, JP du Preez, Justin Basson, Luan de Bruin, Jacques du Toit, Ox Nche. Bank: Joseph Dweba, Charles Marais, Aranos Coetzee, Walt Steenkamp, Aidon Davis, Tian Meyer, Ernst Stapelberg, Ryno Eksteen.

Afskop: 20:15
Skeidsregter:
Dan Jones (Wallis)
Assistentskeidsregters: Craig Evans (Wallis), Mark Patton (Ierland)
TV-skeidsregter: Simon McDowell (Ierland)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.