Vermeulen se Bulls ‘Gans’ te goed vir Sharks

Kurt-Lee Arendse het twee drieë vir die Bulls gedruk (Foto: Twitter)

Dink maar wat jy wil van Jake White, maar die man hou daarvan om rugbywedstryde te wen. Vandag op Loftus Versfeld het sy vennootskap met Duane Vermeulen op ʼn wennoot afgeskop toe die Bulls die Sharks met 49 – 28 in hul Superfan-wedstryd geklop het.

Die Pretorianers het veral in die eerste helfte hul stempel afgedruk en ʼn blitzkrieg van vyf drieë het gesorg dat die Sharks sommer vroeg reeds aan bomskok gely het.

Die Ligbloues se Schalk Erasmus het die eerste rugbypunte op Suid-Afrikaanse rugbybodem in maande gedruk toe hy ná ’n goeie rolmaalbeweging oorgeval het.

Die Bulls se voorspelers – met Vermeulen, Jacques van Rooyen en Arno Botha voor in die koor – het die grondslag vir opwindende agterspelers soos Stedman Gans en Kurt-Lee Arendse gelê om hul zoep-zap-en-zirts-lopies in die agterlyn uit te stal.

Hierdie twee blitsige Sewesbokke het met hul vaart beïndruk en vir twee kookwater-drieë in die eerste 40 minute gesorg.

White was duidelik tevrede met wat sy spelers in die eerste helfte vermag het en hy het later van sy plaasvervangers op die veld gestuur. Die Sharks het ook hul voete in die tweede helfte begin vind en veral hul jonger spelers het vir ʼn paar lekker rugbyoomblikke gesorg.

Maar die Bulls het hopeloos te veel in die eerste helfte gedoen en twee verdere drieë deur David Kriel het die wedstryd buite die Sharks se bereik geplaas.

Vir twee Suid-Afrikaanse spanne wat laas in Maart rugby gespeel het, hoef hulle darem  nie veel vir Nieu-Seeland se Aoteaora-reeks terug te staan nie.

SA Rugby verdien ook ’n pluimpie vir die wyse waarop die Black Lives Matter-kwessie in hierdie wedstryd hanteer is.

Die rugbybeheerliggaam is duidelik teen rassisme gekant, maar die spelers is nie gedwing om die knie te buig nie. ’n Boodskap van versoening is vooraf gespeel, terwyl die Sharks-spelers ‘Rugby against Racism’-hemde gedra het toe hulle op die veld gedraf het.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Schalk Erasmus, Stedman Gans, Kurt-Lee Arendse (2), Travis Ismaiel en David Kriel (2).

Sharks: Drieë: Grant Williams, Marius Louw, Dan Jooste en Jaden Hendrikse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Schalk

Dalk is die swart hempies voor die wedstryd slegte geluk.

Johan

Is daar nog afrikaanse rugby- ondersteuners behalwe die hoogs betaalde spelers, se familie en vriende.

Jakes

Die Sharks moet liewer konsentreer op hoe om goeie rugby te speel as om op rassisme te konsentreer. Van die 4 spanne op die veld het hulle die powerste vertoon. Dan het hul afrigter so paar dae tevore gespog hoe fiks sy span is. Ek hoop nie dat hul egos weer die oorhand oor hul spel gaan kry soos verlede seisoen nie.