Vermeulen voorbok in Wallaby-stryd

Duane Vermeulen (Foto: GB Jordaan)

Die ervare agtsteman Duane Vermeulen sal Saterdag vir ʼn derde keer die Springbokke aanvoer wanneer hulle op Loftus Versfeld teen Australië te staan kom in die openingswedstryd van die Rugbykampioenskap.

Die voormalige Ierse internasionale slot Jean Kleyn sal die eerste keer vir die Bokke uitdraf terwyl losskakel Manie Libbok en die losvoorspeler Marco van Staden ook in die beginspan is.

Springbok-afrigter Jacques Nienaber het 14 spelers aangewys om Dinsdag vroeg na Nieu-Seeland te vertrek om te akklimatiseer en die kanse te vergroot om goed te presteer in die eerste twee toetse wat sewe dae, 12 000 km en 10 tydsones uit mekaar plaasvind.

Vermeulen, wat die Springbokke in 2019 teen Argentinië en die All Blacks aangevoer het, neem die leisels by die beseerde Siya Kolisi oor.

“Ons plan was van die begin af om ʼn groep te kies wat ons glo alles het wat nodig is om Australië te klop, terwyl ons terselfdertyd ‘n groep spelers kies wat na Nieu-Seeland kan reis om ons die beste moontlike kans te gee om goed te vaar in albei wedstryde,” het Nienaber gesê.

“Hierdie span bestaan uit verskeie spelers wat deel was die Wêreldbeker-wengroep sowel as talle jonger spelers wat op die hoogste vlak vir ons die werk gedoen het, en te oordeel na hul entoesiasme en hoë werksetiek tydens opleiding, weet ons hulle is die regte spelers vir hierdie groot taak.”

Nienaber is baie gelukkig met sy keuse om ’n leier van Vermeulen se kaliber te hê om die span aan te voer. “Ons het ’n paar opsies vir moontlike kapteins gehad en ons het twee goeie leiers in Duane en Lukhanyo [Am], wat as onderkaptein vir hierdie wedstryd aangewys is. Hulle is albei gehalteleiers en hulle sal baie ervaring rondom hulle op die veld hê, wat fantasties vir ons as afrigters is.”

Springbok-afrigter Jacques Nienaber (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Oor die bedreiging wat Australië inhou, het Nienaber gesê hulle is ʼn topklasspan en het ʼn goeie taktikus in hoofafrigter Eddie Jones.

“Dit sal die eerste keer in ʼn ruk wees dat ons hulle onder sy leiding sien speel, so ons fokus is hoofsaaklik op ons spel en wat ons graag in die wedstryd wil doen. Hierdie wedstryd is baie belangrik om die toon vir ons hierdie seisoen aan te gee, en ons weet dat ongeag watter speelstyl Australië opdis, dit ʼn fisieke en harde wedstryd gaan wees.”

Die groep wat vroeg na Nieu-Seeland vertrek met ʼn handvol bestuurslede sluit Kolisi in, wat sal voortgaan om saam met die mediese- en kondisioneringspersoneel te werk aan sy rehabilitasie ná sy knieoperasie. Nienaber, hulpafrigter Felix Jones en Rassie Erasmus, direkteur van rugby, sal onmiddellik ná die Australië-toets na Nieu-Seeland reis om te verseker dat die span ʼn volle week se oefening het.

Nog 17 of 18 spelers en spanbestuurslede sal Sondagmiddag na Nieu-Seeland reis. Dié groep spelers sal ná die toets teen Australië beslis word, gegrond op die span se behoeftes vir die komende toets teen Nieu-Seeland en spelersvertonings teen Australië.

Die spelers wat Dinsdag na Nieu-Seeland reis is Steven Kitshoff, Malcolm Marx, Eben Etzebeth, Lood de Jager, Franco Mostert en Jean-Luc du Preez, Kwagga Smith, Faf de Klerk, Cheslin Kolbe, Makazole Mapimpi, Damian de Allende, Jesse Kriel en Kolisi.

Jasper Wiese sal hom later in die week by dié spelers in Nieu-Seeland aansluit ná die geboorte van sy kind Maandag.

Die Springbokspan vir die wedstryd teen Australië:

15 – Willie le Roux

14 – Canan Moodie

13 – Lukhanyo Am

12 – Andre Esterhuizen

11 – Kurt-Lee Arendse

10 – Manie Libbok

9 – Cobus Reinach

8 – Duane Vermeulen (kaptein)

7 – Pieter-Steph du Toit

6 – Marco van Staden

5 – Marvin Orie

4 – Jean Kleyn

3 – Frans Malherbe

2 – Bongi Mbonambi

1 – Ox Nche

Plaasvervangers:

16 – Joseph Dweba

17 – Thomas du Toit

18 – Vincent Koch

19 – RG Snyman

20 – Evan Roos

21 – Deon Fourie

22 – Grant Williams

23 – Damian Willemse

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

piet ·

Ek is bekommerd. Ons weet wat gebeur sodra ons nie ons heel sterkste span kies nie (onthou Wallis, 2de toets).

piet ·

Ek dink nie hy is goedgenoeg meer nie, daar’s beter spelers nou. Hoort nie in die span nie.

Marcello ·

Wow !!! Dit is tyd dat SARU besef daar is ander spelers ook met leiereinskappe bebalwe Kolisi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.