Vernederde Bokke skraap deur teen Poemas

Etzebeth`n Bra patetiese Springbokspan het Saterdagaand in Salta met 33-31 teen die Poemas deurgeskraap. Die Argentyne was in elke enkele aspek die beter span – behalwe op die telbord.

`n Mens moet wag en kyk hoe die Poemas se veldtog verder verloop, maar teen die Springbokke het dit gelyk of hulle met mening in die kompetisie gearriveer het.

Die enigste krediet wat die Bokke toekom is dat hulle in die laaste 25 minute teruggeveg het van `n agterstand van 16-28. Marcell Coetzee se verskyning in die plek van Juan Smith het baie hiermee te doen gehad, want hy het die Bokke uiteindelik oor die voordeellyn begin kry en was saam met Duane Vermeulen die enigste Suid-Afrikaanse voorspelers wat hul sout werd was.

Vir die eerste keer ooit is `n Spingbokspan in die skrums totaal vermorsel (hulle het vyf strafskoppe afgestaan) terwyl dit in die lynstane en by die breekpunte nie baie beter gegaan het nie.

Die Poemas het die eerste helfte totaal oorheers en hulle moes rustyd gewonder het hoe hulle 13-16 agter was. Wel, Bryan Habana se drie van Pienaar se deurskop van `n verlore Poema-bal was die rede – en dit was heeltemal teen die verloop.

Die Poemas het deurgaans die tempo beheer, van die voorvoet af gespeel, besete verdedig en die taktiese skopstryd soos meesters hanteer – alles wat die Bokkie nie gedoen het nie.

Daar was voor die wedstryd vrese oor die Bokke se skrumwerk, en dit was glad nie oordrewe nie. Daarbenewens was albei skakelpare wat speelkans gekry het nie op internasionale peil nie, hoewel `n mens moet byvoeg dis moeilik om spel van die agtervoet af te dikteer en rigting te gee.

Twee Poema-drieë na rustyd het dit laat lyk of dit die skrif aan die muur is vir die Bokke voordat Cornal Hendriks in die 60ste minuut in die hoek oorgeskuur het. Ses minute later het die Bokke uiteindelik die perfekte lynstaan uitgevoer en Coetzee het die dryfbeweging afgerond: 30-28.

`n Lang strafdoel deur Bosch het die Argentyne ná 72 minute 31-30 laat voorloop voordat Morné Steyn die wenpunte drie minute later behaal het.

Suid-Afrika: 15 Willie le Roux, 14 Cornal Hendricks, 13 Damian de Allende, 12 Jean de Villiers (k), 11 Bryan Habana, 10 Handré Pollard, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Juan Smith, 6 Francois Louw, 5 Lodewyk de Jager, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Bismarck du Plessis, 1 Gurthrö Steenkamp.
Bank: 16 Adriaan Strauss, 17 Tendai Mtawarira, 18 Frans Malherbe, 19 Bakkies Botha, 20 Marcell Coetzee, 21 Francois Hougaard, 22 Morné Steyn, 23 Lwazi Mvovo

Argentinië: 15 Joaquín Tuculet, 14 Lucas González Amorosino, 13 Marcelo Bosch, 12 Juan Martín Hernández, 11 Manuel Montero, 10 Nicolás Sánchez, 9 Martín Landajo, 8 Juan Manuel Leguizamón, 7 Juan Martín Fernández Lobbe, 6 Pablo Matera, 5 Tomás Lavanini, 4 Mariano Galarza, 3 Ramiro Herrera, 2 Agustín Creevy (k), 1 Marcos Ayerza.
Bank: 16 Matías Cortese, 17 Bruno Postiglioni, 18 Nahuel Tetaz Chaparro, 19 Matías Alemanno, 20 Leonardo Senatore, 21 Tomás Cubelli, 22 Jerónimo De la Fuente, 23 Horacio Agulla.

Punte

Suid-Afrika (16) 33: Drieë: Habana 32, Henricks 60, Coetzee 70. Doelskoppe: Pollard, Steyn 2. Strafdoele: Pollard 3, Steyn.

Argentinië (13) 31: Drieë: Montero 25, Cubelli 46, Tuculet 50. Doelskoppe: Sanchez 2. Strafdoele: Sanchez 2, Bosh. Skepdoel: Hernandez 12.

Beamptes
Skeidsregter: Steve Walsh (Australië)
Assistente: John Lacey (Ierland), Marius Mitrea (Italë)
TV: Vinny Munro (Nieu-Seeland)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.