‘Verraaiers’ wat gewaag het om oorsee vir geld te speel

rugby

Argieffoto.

Toe daar ʼn paar maande gelede nog om ʼn braaivleisvuur saam met rugbypêlle gekuier is en die name van Alan Skene, Jan Lotriet, Rudi Hasse, Ivor Dorrington, Colin Greenwood, Oupa Coetzer, Jan Prinsloo, Green Vigo  en Nick du Toit genoem is, sou daar skaars ʼn oog geknip word.

Dalk as die name van Tom van Vollenhoven, Wilf Rosenberg en Tommy Gentles daarby gevoeg is, was daar darem ʼn effense opflikkering.

Eers toe die name van Ray Mordt en Rob Louw genoem is, is daar kop geskud.

Maar as een van dié name in ʼn kroeg in Groter Manchester, Leeds of Liverpool genoem word, sal daar nog ʼn warm bier geskink word, wat hulle was almal Suid-Afrikaners wat diep spore in Engelse rugbyligakringe getrap het.

Sewe van hulle was Springbokke (Van Vollenhoven, Rosenberg, Skene, Gentles, Prinsloo, Mordt en Louw) en vyf ander het vir die Westelike Provinsie gespeel, terwyl Du Toit ʼn paar keer vir Noord-Vrystaat uitgedraf het en Vigo vir die Federasiespan (Proteas) gespeel het.

Skene, wat senter vir die Bokke in 1958 in sy enigste toets teen die Franse op Ellispark was, was een van Wakefield Trinity se beste rugbyligaspelers. Hy het tussen 1958 en 1963 in 136 wedstryde 69 drieë gedruk, is vir die International Rugby League 111-span gekies en het ook vir die Sydney Rabbitohs in Australië rugbyliga gespeel.

Vigo het ná die Proteas se toer na Engeland in 1971/’72 na rugbyliga oorgeskuif.  Hy het 168 wedstryde vir Wigan gespeel en 86 drieë gedruk voordat hy hom by Swinton en Oldham aangesluit het. Van die ouer garde wat hom sien speel het, het gesê hy sou vir die Springbokke gespeel het, maar dat dit hom oor politiek nooit beskore was nie.

Du Toit, wat in Kroonstad gebore is en ʼn paar keer vir Noord-Vrystaat gespeel het, was jare lank ʼn baie groot staatmaker by Wigan, Barrow en Hull FC.

Een van Tom van Vollenhoven se beroemde driee teen die Britse Leeus van 1955. Argieffoto.

Van Vollenhoven was een van St. Helens se grootste legendes, want hy het in 408 wedstryde 392 drieë gedruk.

Rosenberg, wat die “Vlieënde Tandarts” genoem is, het 48 drieë in 73 wedstryde vir Leeds gedruk. Hy het na Hull FC oorgeskuif en ʼn verdere 42 drieë in 86 wedstryde gedruk.

Jare daarna het Rosenberg, wat nie meer as tandarts kon praktiseer nie omdat hy artritis gehad het en ook oor sy krom vingers ná verskeie beserings, by boks en sportbemarking betrokke geraak.

Gentles was die kleinste Springbok (1,60 m) wat nog die Springboktrui oor die kop getrek het. Hy was 11 sentimeter korter as Cheslin Kolbe (1,71 m) terwyl Gio Aplon (1,75 m) ook bokant hom sou uittroon.

Gentles het sy geluk by Wigan gaan beproef.

Mordt en Louw was nie soos Van Vollenhoven-hulle te suksesvol in rugbyliga nie, maar albei het vir Wigan gespeel en tog die oog getref.

Ironies genoeg is hulle destyds deur dr. Danie Craven-hulle as “verraaiers” uitgekryt omdat hulle dit gedurf waag het om oorsee vir geld in ʼn ander sportkode te gaan speel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

capie ·

Die verraaiers was nie lank verraaiers nie. Is daarna saam met Doc in die losies gewees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.