Verrassing? Nee. Stomgeslaan? Steeds …

Francois Venter- na 20 minute van die veld met ‘n besering (Foto: fscheetahs)

Die Cheetahs se hulpelose verdediging was Saterdagoggend weer hulle ondergang toe die Hurricanes in Wellington die Blikore ‘n allemintige 61-7-loesing toegedien het.

Dit was die Canes se grootste sege nóg in die Superreeks.

Senter Vince Aso se driekuns was maar ‘n derde van die nege drieë wat die tuisspan ingeryg het, terwyl die Cheetahs se Fred Zeilinga in die eerste helfte oorgeduik het.

Daar moet wel gesê word dat dit nie heeltemal so rampspoedig was soos die eindtelling dit laat blyk nie. Die manne van die Rosestad het veral in die eerste helfte goed rekenskap van hulself gegee hoewel hulle lemoentyd reeds 21-7 agter was.

Dit kan grotendeels toegeskryf word aan hul oorgretige veglustigheid. Bravade spreek van karakter, maar jy gee nie die bal met elke geleentheid lug uit jou eie kwartgebied nie. Nie teen die Hurricanes nie.

‘n Onderskepdrie asook ʼn slim vinnige lynstaan waar die besoekers aan die slaap gevang is, het die Hurricanes die oorhand gegee toe dit aanvanklik gelyk het of die Cheetahs hul man teen die oorweldigende gunstelinge sal kan staan.

Oudergewoonte dié seisoen is die Cheetahs soos die gemeste kalf ter slagting gelei en om verskonings te soek gaan niemand baat nie. Daar is meer gate in hul verdediging as Jacob Zuma se redes vir sy kabinetskuiwe en as dit só bly, gaan die resultate rampspoedig bly.

Sewe drieë (40 punte) net in die tweede helfte vertel van hoe die Cheetahs se verdediging in duie gestort het.

Om hulle dag verder te versuur is hulle kaptein Swys Venter na sowat 20 minute van die veld met wat na ʼn dyspierbesering gelyk het. Dit mag sy kanse knou om teen die Franse toetsrugby te speel.

Die Vrystaters het nou hulle laaste nege wedstryde verloor en tien van die 12 wat hulle gespeel het. Dit is die grootste ononderbroke string neerlae in vanjaar se reeks.

Tog sal hierdie wedstryd vir ‘n stukkie briljantheid deur die verloorspan eerder as die resultaat onthou word.

Vroeg in die eerstehelfte het die Cheetahs se vleuel, Sergeal Petersen, met ‘n pragtige stukkie voetwerk sy lyf Lionel Messi gehou toe hy ‘n skopaangee van die grond af op skouspelagtige wyse uitgevoer het. Lank mag dit op Youtube leef.

Verder is daar weinig te sê …

Puntemakers –

Hurricanes (21) 61: Drieë: Vaea Fifita, Vince Aso (3), Ardie Savea, TJ Perenara, Jeff Toomaga-Allen, Ben Lam, Leni Apisai.  Doelskoppe: Beauden Barrett (5), Otere Black (3).
Cheetahs (7) 7: Drie: Fred Zeilinga. Doelskop: Zeilinga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Wat my die meeste van die vertoning gepla het, is hoe maklik die senters van die Canes die Springbok aanspraakmakers veral op vleuel geklop het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.