Verrassingspakkie uit Wêreldbeker-uitdun gesmyt

Die verrassingspakkie in die wedloop om deelname aan aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi (RWB) in Japan is deur Wêreldrugby (WR) uitgesmyt.

Tahiti (destyds 91ste op die wêreldranglys) het in Augustus verlede jaar vriend en vyand verras toe hy die Cook-eilande met 13-9 geklop het om die Oseanië-rugbybeker te wen.

Die verloorspan het beweer Tahiti het twee onwettige spelers gebruik, en WR het nou, net meer as sewe maande later, hom gelyk gegee.

Tahiti is sy titel en die Asie-Oseanië-uitspeelplek in die heruitdun vir die RWB-toernooi ontneem, en die Cook-eilande is nou die regmatige kampioen en kry die kans om ʼn plek in Japan te verdien.

♦ WR sit met ʼn selfs erger tameletjie in die aanspraakstryd nadat Spanje beswaar aangeteken het teen die skeidsregtersoptrede in sy onverwagse nederlaag teen België in die Europese afdeling.

Spanje lê sy slae voor die deur van die Roemeense skeidsregter wat Rugby Europa in weerwil van Spaanse besware vir die kragmeting aangestel het.

België se oorwinning het Roemenië ten koste van Spanje ʼn plek in Japan besorg.

In wese is dit die ou-ou reël dat die skeidsregter se beslissing finaal is wat hier in gedrang is.

Hopelik duur dit in die geval nie ook sewe maande om ʼn uitspraak te kry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.