Versaking van Nuweland begin sleg vir WP

Jasper Wiese – speler van die wedstryd. (Foto: Cheetahs Rugby)

Die oënskynlike versaking van Nuweland, nog altyd as ʼn bondgenoot van die Westelike Provinsie beskou, het Sondag sleg vir die Streeptruie begin.

Ondanks die bond se ontkenning tot dusver dat dié historiese stadion in die mark is, dui die gerapporteerde verval daarvan blykbaar daarop dat sy dae in elk geval getel is.

Ewenwel, die Vrystaat-vyftiental het die verdedigende SuperSport-kampioen in die Groenpunt-atletiekstadion met 26-20 verslaan om sy titelverdediging in die kwarteindstadium van die reeks te beëindig.

Die besoekers (wat vier drieë teen twee gedruk het) was rustyd met 14-10 voor, en hul agsteman, Jasper Wiese, is as die speler van die wedstryd bekroon.

Dit was die Streeptruie se eerste nederlaag in die reeks sedert die instelling daarvan verlede jaar, en die enigste verrassing in ʼn bra voorspelbare kwarteindronde, wat ongelukkig ook ʼn ongesonde groot kloof tussen van die agt topspanne oopgevlek het.

Die Sharks-vyftiental het die Goue Leeus-vyftiental in Durban met 55-12 verniel (rustyd 31-5); en Griekwas het Boland in Kimberley met 51-22 opgedreun (rustyd 30-10).

Die ander werklik mededingende stryd was tussen die Pumas en die Blou Bulle in Nelspruit, waar die tuisspan met 30-24 baas was (rustyd 20-19).

Garth April, die Sharks se losskakel, het teen die Leeus uitgemunt en 28 punte met twee drieë, ses doelskoppe en twee strafdoele behaal.

Sy eweknie by Griekwas, George Whitehead, het 19 punte met vyf doelskoppe en drie strafdoele behaal.

Puntemakers –

WP 20 (10) – Drieë: David Brits, Tristan Leyds. Doelskoppe: Grant Hermanus (2). Strafdoele: Grant Hermanus (2).

Vrystaat 26 (14) – Drieë: Carel Coetzee (2), Jasper Wiese, Benhard Janse van Rensburg. Doelskoppe: Benhard Janse van Rensburg (3).

Sharks 55 (31) – Drieë: Courtney Winnaar (2), Garth April (2), Grant Williams, Jeremy Ward, Tera Mtembu. Doelskoppe: Garth April (6), Francois de Villiers. Strafdoele: Garth April (2).

Goue Leeus 12 (5) – Drieë: Wandisile Simelane, James Venter. Doelskop: Shaun Reynolds.

Griekwas 51 (30) – Drieë: Kyle Steyn, Ederies Arendse, De Wet Kruger, Sias Koen, AJ Coertzen (2). Doelskoppe: George Whitehead (5), André Swarts. Strafdoele: George Whitehead (3).

Boland 22 (10) – Drieë: Rinus Bothma, Charles Mayeza, Edwin Sass. Doelskoppe: Elgar Watts (2). Strafdoel: Elgar Watts.

Pumas 30 (20) – Drieë: Jeandré Rudolph, Marné Coetzee, Frankie Herne. Doelskoppe: Chris Smith (2), Justin van Staden. Strafdoele: Chris Smith (3).

Blou Bulle 24 (19) – Drieë: Earll Douwrie, Xolisa Guma (2), Dewald Maritz. Doelskoppe: Tinus de Beer, Earll Douwrie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.