Verskeie brandpunte helder Goue Beker op

Verskeie brandpunte sal Saterdag se botsings in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale oopklubreeks om die Goue Beker (GB) ophelder.

Boaan die lys is die verdedigende kampioen, Rustenburg Impala (Luiperds) se kragmeting op Secunda teen Sasol (Pumas).

Die titelhouer se afgelope oorwinning van 28-10 teen Bloemfontein Polisie (Vrystaat) het nie werklik aan die verwagting voldoen nie, en Sasol het op sý beurt oortuigend met 40-24 teen Welkom (Griffons) gewen.

Op die spel is die voortou in Groep A, en die uitslag kan ʼn goeie aanduiding bied van hoe vanjaar se reeks met sy 12 nuwelinge kan ontplooi.

Groep C lyk na een wat vuurwerk kan oplewer, en met Swallows (Grens), wat reeds met dié bond se kampioen, Old Selbornians afgereken het, kan die Oostelike Provinsie se titelhouer, Progress (Uitenhage), allermins gerus wees as die twee spanne mekaar Sondag op neutrale terrein op Despatch pak.

Die kollig sal eweneens skerp val op die toetrede van moontlike gunstelinge soos Vereeniging (Valke) en Quins-Bobbies-rugby (Blou Bulle) tot die reeks.

Die Valke-kampioen pak Polisie op Bobbiespark in die Vrystaatse hoofstad, en die Bobbies behoort aangevuur te wees deur die goeie teenstand wat hulle op Rustenburg teen die GB-houer kon bied.

QBR speel tuis teen Vaal Reefs (Luiperds), wat op soek na ʼn eerste sege is, maar wat hom onwaarskynlik in Groenkloof te beurt sal val.

Die Suidwestelike Distrikte se kampioen het die afgelope vier jaar twee keer die kwarteindronde gehaal, en die bond se nuwe vaandeldraer, Progress (George), se tuiskragmeting op Rosemore teen Tygerberg (Westelike Provinsie), wat in die eerste weekronde sy staal getoon het, kan een van die hoogtepunte Saterdag oplewer.

Op Wellington maak sowel Roses United (Boland) as Western Suburbs (Namibië) op ʼn eerste oorwinning jag, en die een wat verloor, sal sukkel om die kwarteind te haal.

Dit behoort die beste uit die twee mededingers te haal.

Ongeag die uitmergelende reis Kathu toe, en die droë hitte waaraan die kusbewoners nie gewoond is nie, behoort verlede jaar se naaswenner, Valsbaai (WP), die Griekwa-kampioen, Sishen, op sy tuisveld te troef. Hulle kan hul egter op felle teenstand voorberei.

Die Northam Rhinos (Limpopo Blou Bulle) en Old Georgians (Zimbabwe) het elk ʼn goeie sege agter die blad, maar laasgenoemde se klinkende sege van 57-36 oor Raiders (Goue Leeus) moet hom die gunsteling maak om op Northam te wen.

Afskoptye –

Saterdag

15:00 Polisie teen Vereeniging, Bobbiespark, Bloemfontein.
15:00 Progress (George) teen Tygerberg, Rosemore, George.
15:00 Roses United teen Western Suburbs, Pelikaanpark, Wellington.
15:00 Sishen teen Valsbaai, Sivos-stadion, Kathu.
15:30 Sasol teen Impala, Sasol-rugbyklub, Secunda.
16:00 Northam teen Old Georgians, Setaria-ontspanningsklub, Northam.
16:00 QBR teen Vaal Reefs, Harlequin-klub, Pretoria.

Sondag

Progress (Uitenhage) teen Swallows, WJ de Wetstadion, Despatch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.