Verskeie skuiwe kom vanjaar in Griffons-ligas

griffonstrui-bidorbuyVerskeie klubskuiwe kom vanjaar in die ligas van die Griffons-rugbyunie.

Eugéne van Wyk, die hoof- uitvoerende beampte van die Griffons-rugbyunie, sê Hennenman, wat tot dusver in die bond se Eerste Liga (die Griffons-Luiperds-oorgrensliga) gespeel het, het aangedui dat hy vanjaar aan die Sandveldliga sal deelneem.

Bethlehem-oudskoliere, wat voorheen aan die Oos-Vrystaatliga deelgeneem het, gaan op sy beurt aan die Griffons se Eerste en Tweede Liga deelneem.

Voorts moet die Luiperds laat weet of hulle naas Vaal Reefs en Klerksdorp `n derde span in die oorgrensliga gaan inskryf.

Lichtenburg het verlede jaar die bond se Neser-A-liga gewen, maar het onlangs berig dat hy nog onseker is of hy in die hoër liga wil speel.

Corrie Craven, die sekretaris van die Oos-Vrystaatstreek, sê hul planne is agtermekaar en die liga begin 25 Maart.
“[Die klubs] is oorgehaal om mekaar op te dreun.”

Craven sê die Oos-Vrystaat se ligaformaat bly dieselfde en hulle speel weer in `n Noord- en `n Suidgroep om koste te bespaar. Omdat die omstandighede elke jaar verskil, is promosie-relegasiewedstryde nie ter sprake nie.

Collegians II van Bethlehem, Reitz, Harrismith, Frankfort en Heilbron vorm die Noordgroep; en Collegians I, Marquard, Ladybrand, Ficksburg, Lindley en Senekal die Suidgroep.

Lindley het nie verlede jaar aan die reeks deelgeneem nie.

Craven sê die streek beplan ook `n Township-gemeenskapsbeker met ses spanne waarvan die bepalings later uitgereik sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.