Verskeie uit SA druk in Europese kampioenskap

Verskeie spelers uit Suid-Afrika het drieë gedruk in die jongste ronde van die reeks om die Europese Kampioenebeker.

Die gewese Bulls-slot Jacques du Plessis en die Springbok Frans Steyn (buitesenter) het die Franse klub Montpellier gehelp om die Skotse superklub Glasgow Warriors met 29-22 te klop.

Du Plessis het ʼn drie gedruk en Steyn het twee doelskoppe en ʼn strafdoel deur die pale gestuur.

Twee spelers wat Suid-Afrika A verteenwoordig het, het ook agter die doellyn gaan kuier.

Die flank Chris Cloete het ʼn drie vir Munster gedruk in dié Ierse provinsie se sege van 30-10 oor die Engelse klub Leicester; en die skrumskakel Nic Groom het vir die Engelse klub Northampton gedruk wat met 32-43 teen die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) verloor het.

Hanno Dirksen, die regtervleuel van die Ospreys en seun van die Gasel-losskakel Hansie Dirksen, het in laasgenoemde wedstryd ʼn rooi kaart vir ʼn gevaarlike duikslag op die lyf geloop.

Europese Uitdaagbeker

In die reeks om die Europese Uitdaagbeker het Wandile Mjekevu, die heelagter van Toulouse, twee drieë teen Lyon gedruk.
Toulouse het die kragmeting met 30-23 gewen.

Mjekevu het SA o.20 verteenwoordig en Superrugby vir die Kings gespeel.

Suid-Afrikaners het vir albei kante gedruk in die Engelse klub Gloucester se oorwinning van 33-26 oor die Italiaanse klub Zebre.

Ruan Ackermann (agsteman) het vir die wenspan gedruk, en Johan Meyer (flank) vir die verloorders.

Ackermann, die seun van die Springbok Johan, het Suid-Afrika verteenwoordig en Superrugby vir die Lions gespeel. Meyer het Curriebekerrugby vir die Sharks gepeel.

Franse Pro D2-reeks

Twee gewese Superrugbyspelers het elk vir die wenspan gedruk in Montauban se oorwinning van 43-20 oor Biarritz in die Franse ProD2-reeks.

Vleis Engelbrecht (agsteman) het vir die Bulle en die Kings, en Riaan Swanepoel (heelagter) vir die Sharks uitgedraf.

Sean Robinson (buitesenter), wat vir die SA Skolespan en later Superrugby vir die Sharks gespeel het, het ʼn drie vir Bayonne gedruk in sy wegholoorwinning van 53-0 oor Narbonne.

Mzwanele Zito (slot), wat Curriebekerrugby vir Griekwas gespeel het, het ʼn drie vir Carcasonne teen Dax gedruk.

Sy span het met 43-24 gewen.

Franse Fédérale 1-reeks

In die Franse Fédérale 1-reeks het Ulrich Pretorius (plaasvervanger-haker) ʼn drie vir Straatsburg teen Albi gedruk.

Hy het Curriebekerrugby vir die Boland gespeel

Albi het die wedstryd met 28-18 gewen.

Wesley Dunlop (losskakel), ʼn gewese Superrugbyspeler van die Kings, het ʼn doelskop en ʼn strafdoel tot Aubenas se 16-13-sege oor Bourgoin bygedra.

Eduard Bezuidenhout (die wenspan se vaskopstut), wat ʼn draai by die Sharks se akademie gemaak het, is met ʼn geel kaart gestraf.

Dieselfde lot het Nantes se slot Simeon Geldenhuys in sy span se wedstryd teen Anglet getref.

Nantes het met 20-9 gewen.

Geldenhuys, die seun van die Springbok Adri Geldenhuys, het Curriebekerrugby vir die eertydse Mighty Elephants (die Oostelike Provinsie) gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.