Dit is ʼn Vrydagoggend by Hoërskool Garsfontein. Die span van Maroela Media is besig om een van sy video’s vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi op te neem.
Arnold Geerdts is aan die stuur van die sake en met elke kwinkslag, vinnige geselsie en weldeurdagte vraag voel almal binne ʼn japtrap op hul gemak – van ʼn top-Springbok-senter en ʼn bekende sportsielkundige tot borge en ʼn joernalis wat dit veel eerder verkies dat sy rekenaarsleutelbord die praatwerk namens hom doen.
Maar hoe dan anders? Geerdts is is immers ʼn beroepsman van formaat, ʼn sportprogramleier wat voor ʼn TV-kamera floreer.
Dit is nou meer as 40 jaar sedert sy joernalistiekloopbaan in 1981 by ʼn gemeenskapskoerant begin het. Sedertdien het hy al kuipstoppe by die SAUK en SuperSport gemaak, terwyl sy stem in die uitsending van 500 Superrugby-wedstryde, amper 100 rugbytoetse, ʼn magdom groot gholftoernooie en ʼn spul Tour de France-wedrenne gehoor is.
Om dan nie eens te praat van die kere wat hy ʼn mikrofoon met Arnold Schwarzenegger, Lance Armstrong, oudpres. Nelson Mandela, Jack Nicklaus en Gary Player gedeel het nie.
Op 61-jarige ouderdom kan hy na ʼn loopbaan terugkyk wat sekerlik met die Springbokke se voorspelerspel in die jongste toets teen die All Blacks vergelyk kan word: Onverskrokke en op die voorvoet.
Tog erken hy dat die senuwees soms steeds knaag.
“Ek het nog al die jare volgehou: Wanneer die vlinders nie meer in my maag draai nie, sal ek as’t ware die mikrofoon wegbêre,” het Geerdts aan Maroela Media gesê.
Vir die ervare mediaman is senuwees nie ʼn slegte ding nie; dit dui veel eerder op ʼn bereidwilligheid om met elke onderhoud- en programleisessie sy beste te gee. Elke ateljeegas en gesprek is immers ewe belangrik.
Natuurlik het daar ook al ʼn humoristiese foutjie ingesluip.
Hy is kort nadat hy by SuperSport begin werk het, gevra om die Proteas se eerste kriekettoer na Australië te hanteer.
Geerdts – wat sy tande in die uitsaaiwese by die SAUK geslyp het – het so amper die kykers eerder by Top Sport as by die betaalkanaal verwelkom, maar gelukkig kon hy sake binne ʼn japtrap beredder en hy was 27 jaar lank lid van die SuperSport-span.
Sy geloof en sy gesin is die twee grootste steunpilare waarop sy loopbaan rus.
“My geloof in Christus is vir my baie belangrik en ek koester my gesin. Om gehaltetyd saam met hulle deur te bring laat my met liefde en dankbaarheid leef.”

Geerdts se gunstelingmeisies: Lileah, Shiloh en Lily. Hy het ook twee seuns – Corbin en Kinah. (Foto: Verskaf)
Hy is ook ʼn bekende gesig by van Suid-Afrika se grootste padwedlope en benewens sy eie spoggerige topmarathontyd van 2:29, het hy reeds 11 keer die Comrades suksesvol aangedurf.
Geerdts hou sorgvuldig boek van die kilometers wat hy al in sy tekkies kafgedraf het en teen Desember behoort hy die 200 000 km-kerf te bereik.
Maar help uitsaaiwese dan so ʼn bietjie met die drafwerk?
“Dit is eintlik andersom. My Comrades-deelname het my gehelp om die druk van uitsaaiwerk te hanteer. As jy ʼn wedloop van 90 km suksesvol aangepak het, sien jy kans vir enige uitdaging.”
Maroela Media sal Geerdts nou inspan om die Wêreldbeker-wedstryde te ontleed en kommentaar te lewer. ʼn Video van sy insette oor die afgelope naweek se kragmetings en wat om die komende week te vewag, sal elke Maandag op die nuuswebblad geplaas word.
Wie dink hy gaan met die Wêreldbeker-louere wegstap?
“Die Springbokke,” is sy onmiddellike antwoord.
Rassie Erasmus is immers ʼn uitgeslape kalant, Siya Kolisi se terugkeer het die span ʼn hupstoot gegee en hulle weet hoe om Wêreldbeker-wedstryde in Frankryk te wen.
En met Arnold Geerdts deel van Maroela Media se Wêreldbeker-span kan elke skrum, lynstaan en pypkansessie nou ook goed klink.