
Beauden Barrett van die Blues (middel) tydens die Aotearoa-wedstryd teen die Hurricanes (14 Junie 2020) (Foto: Dean Purcell/New Zealand Herald via AP)
Die tweede wedstryd van die Aotearoa-Superreeks tussen die Blues en die Hurricanes was ’n baie meer vloeiende affêre as gister se Highlanders/Chiefs-tweestryd in Dunedin.
Maar 43 000 geesdriftige ondersteuners in Auckland was op drieë getrakteer soos wat net Nieu-Seelandse spelers kan opdis. Die Blues het met 30 – 20 gewen.
Daar was steekskoppies, briljante hardlooplyne, ’n bobaas-aangee of twee en ’n haker wat waarskynlik vir ’n paar plaaslike agterspelers sou hakskene wys.
Natuurlik was daar ook ’n hele paar strafskoppe, maar dis te verwagte as jy amper drie maande laas in ’n wedstrydsituasie was. Otere Black se skopskoen het die Hurricanes gestraf waar dit die seerste maak – op die telbord.
Maar die grootste opwinding was toe die vlieënde Beauden Barrett sy buiging vir die Blues op heelagter gemaak het. En hy het nie teleurgestel nie.

Auckland Blues-ondersteuners juig tydens hul span se wedstryd teen die Hurricanes (14 Junie 2020) (Foto: Dean Purcell/New Zealand Herald via AP)
Die All Blacks-ster het met sy aangee na binne ’n beduidende rol in die Blues se tweede drie gespeel, terwyl hy takties goed geskop het.
Die hoogtepunt was definitief toe die Hurricanes hom deel van hul feesvieringe gemaak het ná Dane Coles se opportunistiese drie.
Dié oomblik het gewys dat die kleur van jou trui nie soveel saak maak nie, maar wél dat die voorreg om rugby voor ’n volgepakte stadion te midde van die Covid-19-era met ’n destydse Mastercard-advertensie vergelyk kan word: priceless soos die Engelsman sou sê.
Die Crusaders maak volgende week hul Aotearoa-buiging wanneer hulle Sondag teen die Hurricanes op die Sky-stadion speel. Die wedstryd begin om 05:35 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.
????The @beaudenbarrett 'Player Cam' on Sky Sport Channel 50 picked up this absolute gem as Beaudy gets caught in the middle of his former team's try celebration on his @BluesRugbyTeam debut ???????????? @Hurricanesrugby @SuperRugbyNZ #BLUvHUR pic.twitter.com/RSBdMh12Ss
— Sky Sport NZ (@skysportnz) June 14, 2020
Klik hier as die video nie direk in jou webblaaier wil speel nie