Video: Blou Bul onthou sy briljante openingsdrie in 1998-Curriebekerfinaal

Conrad Breytenbach druk die openingsdrie van die 1998 Curriebekerfinaal tussen die Blou Bulle en die WP op Loftus Versfeld. Foto: Verskaf.

Dit is 29 Oktober 1998 en dit is tyd vir die Curriebeker-eindstryd tussen die Blou Bulle en die Westelike Provinsie op Loftus Versfeld.

Hoewel die Pretorianers bó die WP op die punteleer geëindig het, het hulle in die groepfase met 38 – 20 teen die einste Kapenaars op Loftus verloor, terwyl die Streeptruie met spelers soos Percy Motgomery en Bob Skinstad gespog het.

“Die opbou tot die finaal was ongelooflik. Ons het vroeër teen die WP op Loftus verloor, terwyl ons laas in 1991 in ’n Curriebeker-eindstryd gespeel het. Daarteenoor was die WP die verdedigende kampioen nadat hulle in 1997 met die Vrystaat op Nuweland klaargespeel het,” onthou die Bulle se Conrad Breytenbach.

Hy was op sy dag ’n gevaarlike skrumskakel, maar hy moes met die legendariese Joost van der Westhuizen om die Bulle se nommernegetrui meeding.

“Ek was ’n skrumskakel, maar met ouens soos Joost daar sou ek enige posisie gespeel het solank ek net speelkans gekry het. Daardie gevoel om met die daisy op jou bors voor ’n stampvol Loftus te speel is iets onbeskryflik.”

Breytenbach was egter veelsydig genoeg om enige plek in die agterlyn te speel en nadat Grant Esterhuizen sy knie in die halfeindstryd teen die Haaie seergemaak het, is daar besluit om hom op regtervleuel in die finaal in te span.

Die plan was dat hy en Van der Westhuizen die Bulle se kantlyn teen Montgomery se reuseskoppe moes beskerm.

“As ek die bal opgevat het, sou Joost na vleuel terugval om die kantlyn te patrolleer; en die plan was dat ons die heeltyd só met mekaar sou wissel.”

Maar binne twee minute nadat Andre Watson sy fluitjie vir die begin van die wedstryd geblaas het, het Breytenbach vir ’n tikkie Loftus-geskiedenis gesorg.

Daar is ’n strafskop aan die Bulle toegeken en Franco Smith (Bul-losskakel) het die perfekte beweging voorgestel – daar was vroeër ’n klein onderonsie tussen die WP se Andy Marinos en die Bulle se Danie van Schalkwyk wat tot die strafskop gelei het.

“Franco het geweet dat Andy weer vir Danie sou teiken en die plan was om in Danie se spore met spoed te volg en dan vir hom die teken te gee om uit sy spore te tree sodat hy die bal vir my kan aangee.”

Op pad doellyn toe: Foto: Verskaf.

Die tydsberekening tussen die spelers het soos klopdisselboom gewerk want toe die aangee-teken gegee is, het Marinos vir Van Schalkwyk getêkkel.

“Dit het gesorg dat daar ’n massiewe gat in hul verdediging was en ek het net een pad gesien: Reguit doellyn toe!”

Pieter Rossouw het op kruisverdediging vir Breytenbach probeer stuit, maar die Bul-vleuel was gereed daarvoor en sy momentum het gesorg dat hy vir die openingsdrie oorgeval het.

“Alles kom tot ’n stilstand en dit voel letterlik asof dinge rondom jou in slow motion afspeel. Ek glo dat baie rugbyspelers vir jou van hierdie tipe oomblikke kan vertel. Toe Andre die drie toeken en ek daar opgestaan het, was dit die eerste keer wat ek die skare gehoor het.”

Die Bulle het die wedstryd met 24 – 20 gewen om hul eerste Curriebeker-trofee in sewe jaar omhoog te hou.

“Baie mense voel dat dit juis daardie drie was wat gesorg het dat ons met die silwerware weggestap het. Dit was ’n baie groot dag en ongetwyfeld die hoogtepunt van my loopbaan.”

Met Rossouw se duikslag het Breytenbach sy kruisligament geskeur. Hoewel hy aanvanklik aangehou speel het, is hy later deur Wim Meyer vervang.

Breytenbach het langs sy pa, Schalk, op die pawiljoen gaan sit en gesien hoe sy spanmaats op sy drie-fondasie voortgebou het.

Saam met Joost van der Westhuizen. Foto: Verskaf.

“Wim het later in die wedstryd ’n ongelooflike drie gedruk wat deur Joost in ons kwartgebied met ’n teenaanval van stapel gestuur is. Breyton Paulse het tevergeefs vir Wim probeer keer en daar is grappenderwys na Paulse as die Rolex van Suid-Afrikaanse rugby verwys omdat hy net aan Wim se arm gehang het,” vertel hy laggend.

Breytenbach het aan Hoërskool Middelburg gematrikuleer en as ’n plattelandse speler was dit sy droom om eendag op Loftus Versfeld te speel.

“Met baie harde werk en ’n tikkie geluk het my droom ’n werklikheid geword en tot vandag besef ek hoe geseënd en bevoorreg ek was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Phil ·

Dankie vir die wonderlike herinnering, met ongelooflike rugbyspelers wat die Bulle weer in n wen fase geplaas het om die Curriebeker te wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.