Video: Pieterse se plettervat maak opslae

Ryno Pieterse in aksie vir Castre. Foto: Fred Scheiber/AFP.

Rugbyondersteuners geniet altyd ’n goeie têkkel. Dit maak nie saak of dit in ’n skool-, klub- of internasionale wedstryd is nie; die toeskouers gesels altyd kliphard saam wanneer ’n speler platgeduik word.

Ryno Pieterse, die Suid-Afrikaans gebore slot wat vir Castre in die Franse Top 14-reeks speel, se plettervat in die afgelope wedstryd teen Bordeaux maak egter opslae om die verkeerde redes.

Met die telling op 23 – 20 in sy span se guns het Bordeaux se Maxime Lucu (skrumskakel) die bal hoog in die lug geskop. ’n Kort rukkie daarna het Pieterse egter soos ’n wafferse rofstoeier deur die lug gevlieg om die veel kleiner speler te stoomroller.

Romain Poite het die slot summier met ’n rooikaart van die veld gejaag en Nigel Owens meen dat die speler lank geskors kan word.

“Ek probeer om nooit by gesprekke oor skorsings betrokke te raak nie, maar hierdie was duidelik ’n rooikaartoortreding. Die optrede moet deur ’n baie lang skorsing gevolg word,” het die voormalige skeidsregter gesê.

Andy Goode, die voormalige Engelse losskakel, het met Owens saamgestem en die plettervat as “sinneloos” bestempel.

Sommige sosialemediagebruikers kon egter nie die bohaai verstaan nie.

“In die 1970’s en 1980’s sou die spel waarskynlik nie eens hiervoor gestop gewees het nie. Ja, hy was ’n bietjie laat, maar dit was glad nie hoog nie. Mense het altyd rugby vir die drieë en têkkels gekyk; ek weet nie waarom hulle dit nou volg nie,” het een twiet gelui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanCzu ·

Duidelik laat met opset, en met opset om sy teenstander te beseer. Ek sou hom lewenslank skors uit alle rugby. Sport het nie sulke boewe nodig nie.

Pieter ·

Rugby is nie vir sussies nie. Die takke was ook nie hoog nie. Wil hulle nou bigen touch rugby speel???
Ek meen regtig, dis asof rugby deesdae eerder in ‘n modeparade verander en hulle almal hulle haarstyle wil wys.
Ek sê dit nie maar net van iemand wat op die kantlyn staan nie, ek speel self en ja daar is tog veiligheidsmaatreëls wat gevolg moet word, maar daardie duik slag is wat passie vir die spel wys, en nie net omdat jy ‘n salaris trek nie

jou gewete ·

rugby is nou n spel vir mamma se seuntjies, nie meer vir manne nie. dis hoekom ek dit glad nie meer kyk nie. belaglik dat hy gestraf moet word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.