Vier Bokke dra 36 tot Franse Top14-liga by

Vier Springbokke het Saterdag en Sondag saam 36 punte vir hul onderskeie spanne in die Franse Top14-liga aangeteken.

Ruan Pienaar (skrumskakel) het Sondag 15 van Montpellier se punte in sy wegholsege van 66-15 oor Toulouse behaal.

Hy het ʼn drie gedruk en vyf van die wenspan se 10 drieë verdoel.

Johan Goosen (losskakel), het met drie doelskoppe geslaag.

♦ Morné Steyn (losskakel) het 10 punte tot Stade Français se sege van 25-13 oor Pau bygedra.

Hy het met twee elk doelskoppe en strafdoele geslaag.

♦ Raymond Rhule (linkervleuel) het Grenoble se enigste drie in sy oorwinning van 31-21 oor Perpignan gedruk.

♦ Die 20-jarige Jaco van Tonder, ʼn gewese slot van die SA Skole A-span, het Clermont se enigste drie gedruk nadat hy die span se bankhaker vervang het.

Bordeaux Bègles het Clermont, die voorloper in die reeks, met 23-19 geklop.

Franse Pro D2-liga

♦ ʼn Gewese Curriebeker-losskakel van die Suidwestelike Distrikte en die Griffons het 14 van Massy se punte in sy naelskraapse nederlaag van 19-20 teen Soyaux-Angoulême in die Franse Pro D2-liga aangeteken.

Hansie Graaff het sy span se enigste drie verdoel en met vier strafdoele geslaag.

Hy het Massy in die 61ste minuut laat voorloop, maar Soyaux-Angoulême het die oorwinning met ʼn strafdoel in die 77ste minuut beklink.

♦ Twee Suider-Afrikaanse agstemanne het die doellyn in die Franse tweedevlakreeks oorgesteek.

Die Namibiese toetsspeler PJ van Lill het dit vir Bayonne teen Provence gedoen (Bayonne het met 39-19 gewen); en ʼn Blitsbok en gewese Bulls-speler, Shaun Adendorff, het dit vir Aurillac teen Nevers reggekry (Nevers het met 16-12 gewen).

♦ James Hall, ʼn gewese SA o.20-skrumskakel, wat Superrugby vir die Kings gespeel het, het ʼn strafdoel vir Oyonnax teen Mont de Marsan behaal.

Mont de Marsan het met 37-21 gewen.

♦ Montauban se banklosskakel, Riaan Swanepoel, wat Superrugby vir die Sharks gespeel het, het ʼn geel kaart teen Beziers op die lyf geloop.

Laasgenoemde het die kragmeting met 27-5 oorheers.

Engelse Premierliga

 Twee Suid-Afrikaners het drieë gedruk in Wasps se sege van 31-13 oor Sale – die Springbok Nizaam Carr (flank) vir die wenspan, en die gewese Bulls-kaptein Jono Ross (agsteman) vir die verloorders.

 Die Bokskrumskakel Cobus Reinach het ʼn drie vir Northampton gedruk in sy nederlaag van 15-17 teen Bath.

Pro14-liga

♦ In die Pro14-liga het Braam Steyn (flank), ʼn gewese SA o.20-speler wat toetsrugby vir Italië speel, die Italiaanse klub Benetton Treviso se enigste drie gedruk in sy nederlaag van 10-27 teen die Walliese streekspan Ospreys (Swansea).

♦ Jaco van der Walt, ʼn gewese Lions-speler, het ʼn doelskop vir die Skotse superklub Edinburgh teen die Ierse provinsie Leinster behaal.

Sy spanmaat Pierre Schoeman (bankstut), eweneens ʼn gewese SA o.20-speler – wat die Bulls in Superrugby verteenwoordig het – is in die 71ste minuut van die veld gestuur, en die Iere het met 31-7 gewen.

Spaanse Liga van Eer

♦ Die oud-Bolander en later Valke-speler Christian Rust het nege punte vir El Salvador in sy sege van 24-5 oor Santboiana in die Spaanse Liga van Eer aangeteken.

Hy het al drie die wenspan se drieë verdoel, en met ʼn strafdoel geslaag.

♦ Twee bankspelers uit Suid-Afrika, Lohan Potgieter (linkervleuel) en Freginald Africa (slot), het elk ʼn drie vir Aperejadores in sy sege van 30-24 oor La Villa gedruk.

Potgieter het die Suidwestelike Distrikte se o.20-span uit die slot- of losvoorspelerposisie aangevoer, en Africa het Curriebekerrugby vir Boland gespeel.

Australiese NRC

♦ In die Australiese Nasionale Rugbykampioenskap (NRC) het die gewese Stormers-driekwart Marcel Brache (regtervleuel), wat toetsrugby vir Amerika speel, twee drieë gedruk in die Western Force se verrassende sege oor Queensland-platteland.

Die span van Perth het die voorloper in die reeks met 42-40 getroef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.