Vier drieë binne tien minute vernietig Poemas-droom

all blacksVier van hulle vyf drieë binne die bestek van tien minute het Saterdagaand aan die All Blacks ʼn oorwinning van 36-17 oor Argentinië in Buenos Aires besorg – en dit was nie so maklik soos die telling aandui nie.

Die Nieu-Seelanders het in die toets hulle vyfde bonuspunt in vyf wedstryde verdien nadat die tuisspan selfs met ʼn laat drie nie kon verhoed dat die All Blacks drie drieë meer as hulle druk nie.

In die wedstryd waar die afrigter Steve Hansen van sy voorste spelers ruskans gegee het, het die skitterende amperse nuwelingsenter Anton Leinert-Brown uitgeblink en benewens sy eie drie ook dié van Ryan Crotty, Dane Coles en Ben Smith aangevoer om die Nieu-Seelandse spelersdiepte te beklemtoon.

Na 36 minute was die All Blacks net 10-3 voor. Die Poemas was aggressief en ondernemend maar afronding het ontbreek. Wat hulle egter in die wedstryd reggekry het is om te bewys hoe belangrik die rekord van die All Blacks is. Die Swartspan moes soms, veral in die tweede helfte, verbete walgooi teen die tuisspan se aanvalle.

Die verskil in die wedstryd was egter daardie bekende skeppende vermoë van die All Blacks. Na hul eerste drie wat eers in die 28ste minuut gekom het toe Beauden Barrett vir Leinert-Brown oorgestuur het, het hulle vanaf die 35ste minuut drie keer gaan druk om die rustydtelling van 29-3 onregverdiglik eensydig te laat lyk.

Dit was in hierdie paar minute die All Blacks op hulle onverbeterlike beste.

Die Poemas se droom oor ʼn eerste oorwinning teen die All Blacks was ondanks hulle eie goeie spel toe reeds daarmee heen. En net vyf minute na die hervatting het die All Blacks boonop hul vierde drie in tien minute gaan druk en was die telling 36-3.

Die volgende kwartier moes die All Blacks hulle keer ken en dit was toe die Poemas se beurt om deur Facundo Isa se drie na 58 minute en eindelik Joaquin Tuculet s’n na 77 minute die enigste punte in die laaste 35 minute punte aan te teken, 36-17.

Dit is darem ook moontlik gemaak deur die All Blacks wat dikwels nie strafskoppe pale toe gemik het nie.

Puntemakers –

Argentinië 17 (3)  – Drieë: Facundo Isa, Joaquin Tuculet. Doelskoppe: Nicolás Sánchez 2. Strafdoel: Sánchez.

Nieu-Seeland: 36 (29) – Drieë: Anton Lienert-Brown, Ben R Smith, Dan Coles, Ryan Crotty, TJ Perenara. Doelskoppe: Beauden Barrett 4. Strafdoel: Barret

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.