Vier drieë ná rustyd hou Cheetahs op koers

Die Cheetahs is steeds op koers vir ʼn uitspeelplek in die Pro14-reeks ná ʼn goeie terugvegpoging Vrydagaand in die tweede helfte teen die Newport Dragons.

Vier drieë ná rustyd nadat hulle met die omdraaislag nog 3-10 teen die swakkerige Dragons agter was, het aan die Vrystaatse span slegs hul tweede oorwinning in agt wedstryde oorsee besorg, 29-17.

Rabs Maxwane, wat verlede jaar vir Tuks, die Bou Bulle en ook die Bulls uitgedraf het, het kort ná die hervatting die eerste van sy twee drieë gaan druk en Fred Zeilinga en Clayton Blommetjies het nog twee bygedra en die bonuspunt vir die Cheetahs verseker.

♦  Die oorwinning plaas die Cheetahs nou 10 punte voor die Cardiff Blues op die punteleer. Die Cheetahs moet nog drie wedstryde speel. Die Blues het nog vier wedstryde oor, insluitend  Saterdag se tuiswedstryd teen Ulster wat in afdeling B ook om ʼn uitspeelplek worstel.

Die Cheetahs is nog nie van ʼn uitspeelplek verseker nie. Sou hulle twee van hulle oorblywende drie wedstryde verloor en die Blues wen al vier hulle s’n, kan bonuspunte en punteverskil bepalend wees.

Dus: die Blues se wedstryde teen Ulster dié Saterdag en aanstaande Saterdag, wanneer hulle met die Cheetahs in Bloemfontein kragte meet, kan deurslaggewend wees.

♦  Die Cheetahs se verdediging Vrydagaand was goed. Hulle moes 137 keer duik om die Dragons, wat besit en gebied geheel en al oorheers het, van hulle lyn te probeer weghou. Net 18 (13%) van hierdie duikslae was mis, vergeleke die tuisspan wat 14 uit 75 keer misgeduik het.

Dissipline was hierdie keer darem ʼn raps beter, hoewel die Cheetahs 12 strafskoppe teenoor vyf afgestaan het.

Puntemakers –
Dragons (10) 19:
Drieë: Ashton Hewitt, Elliot Dee. Doelskop: Arwel Robson. Skepdoel: Robson.
Cheetahs (3) 29: Drieë: Rabs Maxwane (2), Fred Zeilinga, Clayton Blommetjies. Doelskoppe: Niel Marais (2), Zeilinga. Strafdoel: Marais.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

J de lange ·

Ek is net bly iemand neem kennis van die cheetahs as jy na supersport kyk praat kobus net van ander spanne

Kiewiet ·

Nie net Kobus nie, in Toks en Tjops sal hulle eerder oor in oorsese toutrek span gesels as wat hulle iets sal se oor die Cheethas. Toks het self baie wetstryde vir die Cheethas gespeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.