Vier SA afrigters aan die wenkant in Japan

Vier hoofafrigters uit Suid-Afrika se spanne was Saterdag aan die wenkant in die voorlaaste weekronde van die Japanse Topliga.

Die gewese Springbokafrigter Jake White se Toyota Verblitz het NTT Shining Arcs met 22-15 getroef om sy tweede plek in die Rooi Afdeling te handhaaf.

Die Springbok Gio Aplon (heelagter) het die wendrie reeds in die 33ste minuut gedruk. Lionel Cronjé (losskakel), ʼn gewese SA o.20-speler, het dit verdoel en geeneen van die spanne kon daarna weer punte aanteken nie.

Cronjé, wat met nóg ʼn doelskop en ʼn strafdoel geslaag het, is tot dusver vanjaar met 125 punte die voorste puntemaker in die reeks.

Jimmy Stonehouse, wat volgens bespiegeling in die media na Suid-Afrika en die Pumas kan terugkeer, se Toshiba Fuchu Brave Lupus is slegs vier ligapunte agter Verblitz in die derde plek.

Lupus het Kintetsu Liners met 51-14 verniel, en Coenie van Wyk het ʼn doelskop bygedra. Hy het Superrugby vir die Lions en die Cheetahs gespeel.

Dawie Theron se NTT Docomo Red Hurricanes, wat verlede jaar nog in die tweede liga gespeel het, se sege van 38-19 was sy vyfde vanjaar in die Topliga – meer as wat vyf ander uit die 16 spanne kon regkry.

Die nuwe Japanse toetsslot Wimpie van der Walt het twee drieë vir die wenspan gedruk, en die Bok Riaan Viljoen (losskakel) het agt punte met vier doelskoppe bygedra.

Frans Ludeke se Kubota Spears het Coca-Cola West Red sparks met 12-5 geklop.

JC Roos (losskakel), ʼn gewese speler van die Pumas, het ʼn strafdoel vir Canon Eagles behaal in sy nederlaag van 20-25 teen NEC Green Rockets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

koos1 ·

Verbasend wat kan gedoen word as daar nie politieke inmenging plaasvind nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.