Vier Springbokke help Toulon tot in eindstryd

ʼn Agttal met vier Springbokke in het Vrydag die grondslag vir Toulon se oorwinning teen La Rochelle in die een halfeindstryd van die Franse Top14-liga help lê.

Marcel van der Merwe (stut), Juandré Kruger (slot), Juan Smith (flank) en Duane Vermeulen (agsteman) het almal hul kant in die sege gebring.

Dis Smith, wat oor twee maande 36 word, en in 70 toetse vir Suid-Afrika gespeel het, se laaste seisoen by Toulon nadat hy in 2013 by die klub aangesluit het.

Hy is aan die begin van die huidige seisoen geopereer nadat hy ʼn boarmspier geskeur het, en was lank op die krukkelys.

Die kragmeting teen La Rochelle het uiters spannend geëindig nadat voorgenoemde in ʼn stadium met 15-6 voorgeloop het.

Toulon het egter teruggeveg – wat vergemaklik is toe La Rochelle ʼn man deur ʼn rooikaart verloor het – en die sege is met die laaste skop van die wedstryd beklink.

♦ In die ander halfeindstryd het Clermont Auvergne die verdedigende kampioen, Racing 92, met 37-31 uitgeskakel.

Een van Clermont se drieë het gekom nadat sy Bryanstons-gebore Engelse toetsspeler Nick Abendanon ʼn los aangee vorentoe geskop het vir een van sy spanmaats om ʼn drie te druk.

Die wenspan se Springbok-slot Flip van der Merwe is egter ʼn rooikaart gewys, en sal waarskynlik die eindstryd misloop.

Europese Pro12-liga

♦ Rassie Erasmus, die Ierse provinsie Munster se Suid-Afrikaanse afrigter, se suksesverhaal in die Europese Pro12-liga is beëindig toe die Walliese streekspan Scarlets (Llanelli) hom in die eindstryd met 46-12 verslaan het.

Ongedissiplineerdheid en swak hantering was, luidens berigte, die Iere se ondergang.

Die Kanadese toetsspeler wat op Worcester gebore is, DTH van der Merwe, het een van die wenspan se ses drieë gedruk.

Die Bok-stut Werner Kruger en David Bulbring, ʼn SA o.20-speler wat Superrugby vir die Lions en die Kings gespeel het, het van die bank af vir die Scarlets gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.