Vier Suid-Afrikaners het so te sê ál die twee Skotse superklubs se punte in die jongste ronde van die Pro14-reeks behaal.
Brandon Thomson (losskakel) het 24 van Glasgow Warriors se punte in sy sege van 29-20 oor die Walliese streekspan Scarlets (Llanelli) aangeteken.
Dié gewese SA o. 20- en Stormers-speler het ʼn drie gedruk en met twee doelskoppe en vyf strafdoele geslaag.
ʼn Blitsbok en nóg ʼn gewese SA o. 20-speler, Clayton Blommetjies (bankvleuel), het een van die verloorspan se drieë gedruk.
♦ Spelers uit Suid-Afrika het ál Edinburgh se punte in sy nederlaag van 44-14 teen die Ierse provinsie Munster, met die gewese Bokhulpafrigter Johann van Graan as rugbydirekteur, aangeteken.
Duhan van der Merwe (linkervleuel) het twee drieë gedruk, en Jaco van der Walt (losskakel) en Jason Baggott (banklosskakel) het elk een daarvan verdoel.
Van der Merwe, die broer van die Bok-haker Akker van der Merwe, is eweneens ʼn gewese SA o. 20-speler wat die Blou Bulle in die Curriebeker-opstelronde verteenwoordig het; Van der Walt is ʼn gewese SA Skole-speler en het Superrugby vir die Lions gespeel; en Baggott, wat hom uit die Oostelike Provinsie by Edinburgh se rugby-akademie aangesluit het, is vanjaar tot dié klub se senior span bevorder.