Vier uit SA behaal punte in Roemeense liga

Jonty Bredell – een van vier SA puntemakers. (Foto: Baie Mare)

Vier spelers uit Suid-Afrika het Saterdag punte behaal in die laaste weekronde van die Roemeense Superliga.

Jonty Bredell (losskakel) – ʼn oudleerling van St. Stithians in Johannesburg, en wat die Westelike Provinsie op o.19-vlak verteenwoordig het – het drie doelskoppe vir Baia Mare teen Dinamo Bucuresti aangeteken.

Sy span het met 33-29 gewen.

JR Esterhuizen (vleuel), wat die Goue Leeus in die reeks om die Curriebeker verteenwoordig het, het ʼn drie vir Dinamo gedruk.

In nóg ʼn wedstryd het CSM Bucuresti met 33-15 teen Steaua Bucuresti gewen.

Danie Faasen (skrumskakel) en Darren Baron (losskakel) het elk met twee doelskoppe vir CSM geslaag.

Faasen was ʼn lid van die SA Kings-span wat in 2011 die (toe nog) Internasionale Rugbyraad (IRR) se Nasiesbeker in Boekarest, Roemenië, gewen het, en het Curriebekerrugby vir die Blou Bulle, Oostelike Provinsie en Suidwestelike Distrikte gespeel.

Baron het die Vrystaat in die opstelronde van die Curriebeker verteenwoordig.

CSM speel aanstaande Saterdag in die halfeindstryd teen die verdedigende kampioen, Timoşoara Saracens; en Baia Mare en Steaua durf mekaar aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Afrikaanse Knaap ·

Rominië is ‘n besonderse mooi land.
As ek kon het ek more soontoe getrek en luidkeels vir die manne ondersteun.
We gedaan ouens, julle maak my trots.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.