Vier uit SA verbeter hul oorsese rekords

Raynor Parkinson – rekord verbeter. (Foto: Jürgen Kessler/DRV)

Vier spelers met Suid-Afrikaanse wortels het die afgelope Wêreldbeker-heruitdun in Marseille, Frankryk, aangegryp om hul oorsese punterekords te verbeter.

♦ Raynor Parkinson, Duitsland se losskakel, se agt punte (vier doelskoppe) in sy span se oorwinning van 43-6 oor Kenia bring sy totaal as die Swart Adelaars se voorste puntemaker op 323 in 35 toetse te staan.

Hy het as student die Universiteit van Johannesburg op die rugbyveld verteenwoordig.

♦ Jaco Otto (flank), wat o. 21-rugby vir die Sharks gespeel het, is nie net Duitsland se voorste driedrukker met 19 drieë in 23 toetse nie, maar sy 95 punte is die tweede hoogste vir dié land.

♦ DTH van der Merwe, die Kanadese vleuel wat in Worcester in die Boland gebore is, se tweekuns in die kragmeting teen Hongkong bring sy rekordgetal drieë op 37 in 55 toetse te staan.

Hy het ʼn driekuns teen Kenia in die eerste heruitdun-wedstryd behaal.

Van der Merwe het reeds 13 meer toetsdrieë gedruk as die vorige Kanadese rekordhouer, Winston Stanley, se 24 in sy 66 toetse van 1994 tot 2004.

♦ Matt Rosslee (losskakel) se vyf punte – ʼn drie en ʼn strafdoel – teen Kanada skuif sy Hongkongse rekord tot 177 in agt toetse op.

Hy het Griekwas in die Curriebeker-reeks en die Ikeys in die Varsitybeker-reeks verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.