Vier uit sewe Yank-spanne het spelers uit SA

Amerika se nuwe Senior Ligarugby skop in April af. (Foto: MLR)

Minstens vier van die sewe spanne wat van April af in die nuwe Amerikaanse beroepsliga speel, kan spelers met Suid-Afrikaanse wortels inspan.

Die nuwe Senior Liga is tot stand gebring nadat ‘n vorige poging, PRO Rugby USA, na ʼn enkele seisoen skipbreuk gely het.

Austin Elite beskik oor Hanco Germishuys (flank), Michael Reid (skrumskakel) en Zinzan Elan-Puttick (heelagter). Al drie was lid van die Austin Huns-span wat verlede jaar op indrukwekkende wyse die Amerikaanse nasionale liga onder die afrigting van die Suid-Afrikaner Loffie Eloff gewen het.

Die 21-jarige Germishuys, wat Griekwas by die o.13-Cravenweek verteenwoordig het, het reeds in twee toetse vir Amerika gespeel; Reid is in Durban gebore, het onder meer jeugrugby vir Pirates in Johannesburg gespeel, en het vir Amerika se o.20 span uitgedraf; Elan-Puttick is ʼn produk van Greykollege in Bloemfontein.

Glendale Raptors se groep sluit Shaun Davies (skrumskakel), Chad London (senter) en Armandt Peens (heelagter) in.

Davies is in Durban gebore, het aan Westville Boys High gematrikuleer, en het al 11 toetse vir Amerika agter die blad; London, met ses toetse, is in Johannesburg gebore; en Peens het die Valke as losskakel by die o.18-Cravenweek verteenwoordig.

Vincent Jobo (losvoorspeler) en JP Eloff (losskakel) is op New Orleans Gold se spanlys.

Jobo het Curriebekerrugby vir die Vrystaat Cheetahs en die OP Kings gespeel; en Eloff, wat in Pretoria gebore is en aan die Hoër Tegniese Skool John Vorster gematrikuleer het, het al nege keer die Amerikaanse Arende se trui gedra.

Die Seattle Seawolves kan op die knoppies druk van Riekert Hattingh (agsteman) en Mat Turner (heelagter).

Hattingh het die Blou Bulle in die opstelronde van die reeks om die Curriebeker verteenwoordig; en Turner, wat Engeland in sewesrugby verteenwoordig het, het Vodacombekerrugby vir die Westelike Provinsie gespeel.

Die Houston Sabrecats, San Diego Legion en Utah Warriors lys tans geen Suid-Afrikaners nie, maar die Warriors het nog ʼn paar vakatures, en die Legion se span is nog ver van afgehandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johanna Botha ·

Geen wonder SA sit nou met n verswakte span want die bestes is verjaag en speel oorsee …nou sit ons met n werfbok soos ons almal weet ;(

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.