Vier uit vier vir Engeland teen Junior Bokke in uitspeelronde

Te veel verbroude duikslae, te min rugby wat gespeel is en swakker beheer van hulle besit het gister verhoed dat die Junior Springbokke vir slegs die derde keer in tien jaar na die o.20-Wêreldkampioenskap se eindstryd deurdring.

Engeland het die halfeindstryd in die toernooi in Tbilisi in Georgië met 24-22 gewen nadat ʼn reeks foute in die laaste bewegings voorgekom het wat tot die wendoel gelei het.

Dit was Engeland se vierde opeenvolgende oorwinning in die uitspeelwedstryde teen Suid-Afrika nadat die Bokke in 2014 (in die eindstryd) en in 2015, 2016 en Dinsdag in die halfeind teen die Wittruie vasgeval het.

Die vernaamste van Suid-Afrika se ongedwonge foute was ʼn losskrumoortreding sowat vyf minute voor die einde. Die Junior Bokke het, selfs na ʼn waarskuwing van die skeidsregter, vanuit ʼn onkantposisie na die bal geskop.

Van die daaropvolgende kortskoppie en fasespel was die keerwerk maar eina. Dit is beklemtoon toe drie spelers misgegryp het na die Engelse kaptein Zach Mercer (let wel, nie misgeduik het nie) voordat hy onder die pale oor is.

Van die Junior Bokke se agterlyn wat so vlymskerp teen Argentinië gehardloop het, was min te sien. Hulle het nie altyd goeie besit gekry nie en ook veel minder daarvan as die Engelse agterlyn.

Trouens, hulle het sowat 50% minder aangeë as die Engelse gemaak en ook omtrent helfte van die afstand gevorder as Engeland.

Met eg-Suid-Afrikaanse rugby is daar keer op keer, veldaf gesool. Meermale was die Engelse se teenaanvalle meer as goed genoeg om die skoppe met rente terug te betaal.

Hulle ondersteunende spel was uitstekend en was dit nie vir ʼn oordeelsfout of twee waar die man-oor nie gebruik is nie, was die wengaping heelwat groter.

Waar die Junior Bokke wel uitgeskop het, het Engeland dikwels lynstaanbesit afgestaan. Hulle skrums was ook nie opgewasse teen die Junior Bokke nie, met die meeste van die Bokke se strafskoppe wat van hierdie faset gekom het.

Van die agterlyn wat so teen die Poemas in die laaste groepwedstryd baljaar het,  is min gesien maar Juarno Augustus het tog die eerste drie van die Bokke na goeie agterspel gedruk.

Daarna het Suid-Afrika se drieë van gedissiplineerde fasespel en ʼn rolmaal gekom, waarvan albei vir Engeland hoofbrekens besorg het.

Puntemakers –

Suid-Afrika (12) 22: Drieë: Juarno Augustus 2, Doelskoppe: Curwin Bosch 2. Strafdoel: Bosch.
Engeland (17) 24: Drieë: Zach Mercer 2,  Alexander Mitchell. Doelskoppe: Maxim Malins 3. Strafdoel: Malins.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lol ·

Dawie Theron waar is jy? Ek het voorspel Chean Roux gaan nie suksesvol wees.

Die ANDER worshond ·

“… het GISTER verhoed…”? Volgens my was die wedstryd van 16:00 – 18:00 vandag.

Maar ja, hulle was ongelukkig by verre die swakker span en die eindtelling is eintlik ‘n bietjie vleiend vir die Baba Bokke.

Joe ·

Ons spelers is ligjare agter NZ en selfs die Engelse, en dit gaan oor besluitneming op die veld en swak afrigting. Die spelers EN afrigters het nie ‘n begrip van hoe ‘n span situasies op die veld en hoe om ‘n voorsprong te hanteer. Ons neem 4 lynstaan balle af, waarop die skrumskakel al 4 balle wegskop?? Ons is voor, maar gee met 5 min oor nog steeds besit weg met skoppies?? Begin maar by Bulletjie rugby om OOIT weer NZ te wen.

Avokado ·

Ek stem saam met jou Joe. Die probleem begin al op skoolvlak. Plaaslike spelers word oor die hoof gesien vir gekoopte spelers. Die “afrigter” is eintlik maar net ‘n “manager” wat die span gekoopte spelers wil bestuur en nie kan of wil afrig nie. Dit begin al by graad 8 en hou niks goeds in vir die toekoms van SA rugby nie.

Ben ·

Ons moet maar vrede daarmee maak dat dit is hoe Suid Afrikaanse sport in die toekoms gaan lyk.Teveel passasiers wat staan en kyk en te min wat hulle kant bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.