Vir sulke Bokke haal `n mens hoed af!

Bismark

Bismarck du Plessis – ingooie kos SA

Verloor, ja, maar geen rede vir sak en as nie. Die Springbokke het met hul beste vertoning in `n baie lang tyd getoon dat hulle weer die publiek en die All Blacks se respek verdien, al was die telling 10-14.

Wanneer laas het `n Springbok-pak so uitstekend vertoon, met Duane Vermeulen wat gewys het hy hoef nie terug te staan vir Kieran Reid nie? Die afbreekpunte – een van die span se swak plekke – en skrums was vandag uitstekend.

Die Bokke het ook soos besetenes verdedig teen `n span wat soos `n geoliede masjien met elke bal aangeval en vorentoe beweeg het. Met rustyd het die Bokke reeds twee keer soveel duikslae ingesit, en dit het nie in die tweede helfte verander nie.

As daar twyfel was oor Handré Pollard, het hy vandag getoon hy is die losskakel vir die Wêreldbeker. Jan Serfontein het ook veel meer tot sy reg gekom toe hy binnesenter gespeel het, met De Villiers op nr.13.

Die wedstryd het in die 55ste minuut van die Bokke weggedryf toe Bismarck du Plessis vir Adriaan Strauss vervang het. Skielik het die Bokke drie lynstane en twee skrums in `n ry verloor en kon hulle geen momentum opbou nie.

Hougaard het `n baie goeie Ruan Pienaar (beseer) in die 35ste minuut vervang en `n hele paar keer die omkeerbesit wat die Bokke gewen het, op onverklaarbare wyse in die All Blacks se kele afgeskop. Hy is duidelik nie die antwoord op skrumskakel nie.

Willie le Roux – dikwels die held – het ongelukkig hierdie wedstryd vir een van sy swakste vertonings gekies.

Cornal Hendricks het die Bokke se drie in die 15de minuut van `n lynstaan gedruk in `n beweging waarin Pollard twee keer hanteer het en die Bokke was rustyd 7-6 voor.

McCaw se drie van `n hoekskop het die telling kort na rustyd na 7-11 vervang voordat Pollard `n puik skepdoel behaal het: 10-11.

Suid-Afrika is verskeie kere gepenaliseer omdat hulle nie na `n duikvat weggerol het nie en in die 65ste minuut het Barrett die telling 10-14 gemaak.

Presies hoeveel trots daar in die Springboktrui is, is in die laaste tien minute getoon toe die Bokke in die Kiwi’s se 22 kamp opgeslaan het. Twee aanvallende lynstane het net-net skeefgeloop en selfs `n vaskopskrum in die 79ste minuut kon nie die wenpunte oplewer nie. 

Suid-Afrika: 15 Willie le Roux, 14 Cornal Hendricks, 13 Jan Serfontein, 12 Jean de Villiers (k), 11 Bryan Habana, 10 Handré Pollard, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Marcell Coetzee, 6 Francois Louw, 5 Victor Matfield, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Adriaan Strauss, 1 Tendai Mtawarira.
Bank:16 Bismarck du Plessis, 17 Trevor Nyakane, 18 Marcel van der Merwe, 19 Lodewyk de Jager, 20 Warren Whiteley, 21 Francois Hougaard, 22 Pat Lambie, 23 Damian de Allende.

Nieu-Seeland: 15 Israel Dagg, 14 Ben Smith, 13 Conrad Smith, 12 Ma’a Nonu, 11 Julian Savea, 10 Aaron Cruden, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read, 7 Richie McCaw (k), 6 Steven Luatua, 5 Jeremy Thrush, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Dane Coles, 1 Wyatt Crockett.
Bank: 16 Keven Mealamu, 17 Joe Moody, 18 Ben Franks, 19 Patrick Tuipulotu, 20 Sam Cane, 21 TJ Perenara, 22 Beauden Barrett, 23 Cory Jane.

Punte 

Suid-Afrika (7) 10: Drie: Hendricks (15) Doelskop: Pollard. Skepdoel: Pollard

Nieu-Seeland (6) 14: Drie: McCaw (45) Strafdoele: Cruden 2, Barrett. 

Skeidsregter: Jérôme Garcès (Frankryk)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.