Vir wie moet die ondersteuners glo?

Dis enige afrigter en speler se nagmerrie wanneer oudspelers en gewese (en ook huidige) afrigters hul mond uitspoel oor die stand van rugby.

Maar dis ook soos manna uit die hemel vir joernaliste en ondersteuners.

Dink maar aan Jake White.

Niemand kan eintlik met hom stry nie, want  hy is een van net agt afrigters wat sedert 1987 met ʼn oorwinning in ʼn Wêreldbekertoernooi spog. Maar die feit dat hy nie ʼn ritssluiter oor sy mond kan hou nie, het hom al baie in die spervuur laat beland. Hy trap op tone en òf jy stem saam met hom, óf nie. Daar is geen grys gebiede nie, net wit of swart.

White het vandeesweek weer van die heup af geskiet oor spelers wat oorsee speel. Volgens White moet die beste spelers vir die Bokke gekies word (White was in sy afrigtingsdae by die Bokke nie ʼn voorstander daarvan om oorsese spelers te kies nie, hoewel baie minder spelers toe oorsee gespeel het).

Hy het ook gesê die huidige Springbokspan sal nie kan kers vashou met ʼn span Springbokke wat oorsee speel nie.

Dis ʼn lekker speletjie dié, ene wat net op papier gewen kan word en waarmee baie ondersteuners mee sal saamstem.

Die meeste van die ander oud-Bokafrigters (behalwe Nick Mallett wat ’n televisie-ontleder is) raak nie betrokke nie. Peter de Villiers laat waai ook soms, maar meestal draai dit net om homself, maar ander soos prof. John Williams, Ian McIntosh, André Markgraaff, Carel du Plessis, Rudolf Straeuli, Harry Viljoen en Heyneke Meyer hou hul kommentaar in die laai.

Die Aussies het nie net een Jake White nie, maar sommer twee: Alan Jones en Bob Dwyer.

Jones (76) het die Wallabies in 1984 afgerig toe hulle die Grand Slam gewen het en die All Blacks in 1986 die eerste keer in 39 jaar in ʼn Bledisloe-toets verslaan het.

Dwyer (77) was die Wallabies se wenafrigter in die Wêreldbekertoernooi van 1991.

Albei het min ooghare vir die Australiese Rugbyunie (ARU), wat op ‘n gevaarlike dun lysie loop.

Dwyer bepleit dat al vyf Australiese spanne in die Superreeks behou moet word en Jones sê een of selfs twee spanne moet die trekpas kry.

Nou wie moet die Aussies glo?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.