Virsekerbeker 2018 ‘beter as ooit’

Die paneel: Rika Nieuwoudt, Brendon Shields, Wynie Strydom, Alwyn Hollenbach, Rasta Rasivhenge en Ferdi Niemand (Foto: Verskaf)

Virseker het die nuwe seisoen van die Virsekerbeker – die grootste skolerugbykompetisie vir Noordvaal-skole en oudste skoletoernooi in Suid-Afrika – afgeskop met selfs hoër hoogtes in die visier.

Virseker is alombekend vir sy dienslewering in en ondersteuning van Afrikaans deur verhoogproduksies soos Afrikaans is Groot, sowel as die bevordering van Afrikaanse onderrig, waar reeds meer as R20 miljoen in onder meer Akademia, die Rapport Onderwysfonds en die ontwikkeling van Afrikaanse leertoepassings (apps) belê is.

Die Virseker Trust kon, danksy ʼn porsie van Virseker- privaat en besigheidspolishouers se premies wat maandeliks aan dié trust toegeken word, weereens sy volle gewig agter hierdie 98 jaar oue toernooi gooi.

“Met Virseker nou in sy derde jaar van betrokkenheid by hierdie kompetisie, is dit verblydend om te sien hoe vurig skole, ouers, die wyer publiek, kenners in die rugbywêreld, ons vennote en die media oor die algemeen dit ondersteun,” sê Neil van der Walt, woordvoerder van Virseker. “Ons werk in Afrikaans, ons leer in Afrikaans, ons sing in Afrikaans en ons speel eersteklas rugby in Afrikaans.”

Daar is ook opwindende nuwe verwikkelinge aan die mediadekkingsfront: kykNET en Kie sal elke Dinsdag van 8 Mei vir o.15’s en elke Woensdag van 9 Mei vir o.16’s geselekteerde, vooraf-opgeneemde Virsekerbeker-wedstryde beeldsaai. Van 12 Mei sal eerstespanwedstryde ook elke Saterdag regstreeks op kykNET gebeeldsaai word.

Verder sal die Virsekerbeker-geselsprogram ook elke Donderdagmiddag van 10 Mei op kykNET en Kie te sien wees, waar daar lekker met verskeie gaste en kommentators gesels sal word en terugflitse en statistieke in detail ontleed en bespreek sal word.

“In Suid-Afrika is ons bevoorreg om hope talent van wêreldgehalte te hê wat net wag om raakgesien en ontgin te word,” sluit Van der Walt af. “Ons is trots om ʼn platform te bied waar die provinsiale uitblinkers en Bokke van die toekoms geslyp kan word en sien uit na ʼn uitstekende 2018-seisoen!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.