Virsekerbeker-eindstryd: Reeks bring oplaas krag teen krag

Dis uiteraard nie waarop die ondersteuners van die eindstrydspanne in al die afdelings sal fokus nie, maar die grootste pluimpie vir die Virsekerbeker-reeks is die nuwe stelsel van krag teen krag wat vanjaar gevolg is en voortaan sal geld.

Dit is waarom ook buitestaanders vanjaar omgee oor en uitsien na die eindstryd van die Beker-afdeling wat Saterdag in die Tuksstadion tussen Helpmekaar en Monument beslis sal word.

Hulle is ou rugbyvyande, ja ‒ veral in die jare voordat Helpmekaar deur ʼn oorgangsfase gegaan en sedertdien in die Grootskole-reeks sy stem sommer baie dik gemaak het.

Daarom is dit verbasend dat daar sedert 1921, met ses naamsveranderinge vir die reeks wat sedertdien gevolg het, nog nie ʼn eindstryd tussen Saterdag se twee skole gespeel is nie.

Miskien was dit omdat een van dié twee as Transvaal- en later die Goue Leeu-spanne in dié unie se uitspeelrondes reeds uitgeskakel is.

♦ Dit is Saterdag neutrale grond (Tuks-stadion) vir die twee spanne. ʼn Mens kan uitwei oor die twee oorwinnings in die halfeindronde waar Helpmekaar eers teen die einde vir Transvalia met 34-33 kon onderkry, en Monnas op ʼn drafstap met ʼn groot oorwinning oor Garsfontein op dié se veld met 45-14verras het.

Helpmekaar het Saterdag moontlik die sielkundige voorsprong nadat hulle vroeër vanjaar in die ligaronde met Monnas afgereken het. Ook verlede naweek se vasbyt-oorwinning in die halfeind kan die selfvertroue hupstoot gee.

Die teensy daarvan is natuurlik óók waar: te véél selfvertroue bring ʼn amperse oorgerustheid en daardie eerste neerlaag teen Helpmekaar kan vir Monnas vasbeslotenheid bring.

♦ Albei die skole het, soos Menlopark, twee spanne in die ouderdomsgroep-eindstryde van die Bekerafdeling.

Saterdag se eindstryde ‒

Bekerafdeling
Eerste spanne: Helpmekaar vs Monnas
O.16-spanne: Helpmekaar vs Monnas
O.15-spanne: Menlopark vs Monnas
O.14-spanne: Helpmekaar  vs Menlopark
Plaatafdeling
Eerste spanne: Eldoraigne vs Noordheuwel
O.16-spanne: Rustenburg vs Eldoraigne
O.15-spanne: Rustenburg vs Marais Viljoen
O.14-spanne: Noordheuwel vs Zwartkop
Skildafdeling
Eerste spanne: Ben Vorster vs Oos-Moot
O.16-spanne: Jeugland vs Hugenote (Springs)
O.15-spanne: Lichtenburg vs Middelburg
O.14-spanne: Florida  vs Middelburg

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ondersteuner ·

Dis jammer dat die ander spanne wat ook deelneem nie genoem word nie. 2 van Ellisras se spanne (0/15 & 0/16) het ook deurgedring na die finaal en neem ook more by Tuks deel. Ewe harde werk as die ander ligas om tot op hierdie punt te kon kom.

Danie ·

Ek stem saam dat dit jammer is dat ander skole nie genoem word nie. My skool, Hoërskool Oos-Moot, het sedert die 80’s nie in hierdie reek deurgedring nie en het Saterdag vir Ben Vorster geklop . Ek hoop dit word darem Maandag genoem…

Ellisras ·

Ek neem aan daar sal Maandag ‘n berig wees met Ellisras in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.