Vlugvoosheid: probleem of nie?

Vlugvoosheid is een van daardie vloekwoorde in rugby wat enige span kan ontspoor.

Daar is jare lank daaroor geskryf en jare lank het spanne dinge uitgewerk, maar enige span wat oorsee toer of spanne wat na Suid-Afrika reis, het die nadelige uitwerking daarvan al ervaar.

Jy is poegaai wanneer jy anderkant aankom. Jy kan vir die eerste paar nagte nie behoorlik slaap nie, wil in die dag aan die slaap raak en in die nag woel, jou eetgewoontes word aangetas … en so kan ons aangaan.

Dis hoekom die Lions besluit het om Dinsdag eers na Sydney te vlieg vir Vrydag se Superrugbywedstryd teen die Waratahs in ʼn poging om vlugvoosheid aanstaande week eers behoorlik te ervaar en af te skud.

As dit uitwerk, sal almal die afrigter, Swys de Bruin, en sy bestuurspan loof vir hul poging om die probleem só te systap.

As dit nie uitwerk nie, sal almal sê: “Sien, ek het jou mos gesê.”

As daar één speler is wat hom nie deur vlugvoosheid laat onderkry het nie, is dit die oud-Argentynse losskakel, José Cilley.

Cilley was aanvanklik nie in die Argentynse toerspan ingesluit wat in 1994 deur Suid-Afrika getoer het nie. Maar toe die losskakel Gullermo del Castillo, wat in die eerste toets in Port Elizabeth gespeel het, kort voor die tweede toets op Ellispark seerkry, is ʼn noodsein na die 21-jarige Cilley in Buenos Aires  gestuur, omdat daar geen ander fikse losskakel in die groep was nie.

Cilley het eers die Saterdagoggend voor die toets in Suid-Afrika aangekom en as ek reg onthou, is hy reguit Ellispark toe om ʼn paar skoppe te gaan oefen.

Ondanks die lang vlug en die tydverskil, het hy geen tekens van vlugvoosheid in die toets getoon nie. Hy het ʼn drie gedruk, twee doelskoppe deur die pale gejaag en ook met vier strafdoele geslaag vir ʼn bydrae van 21 punte.

Dit was die keerpunt in Cilley se loopbaan, want hy het voortgegaan om nog 14 toetse vir die Poemas tussen 1994 en 2002 te speel.

Nou is die vraag: Word daar nie te veel klem op die probleem gelê nie? Want almal weet dat, as ʼn rugbyspeler se kop eers begin raas, kan jy maar punte vat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.