Voel Aussies se spelerbaas nog so oor SA weglating?

Wat sê die grootbaas van die Australiese Rugbyspelersvereniging (Rupa) nou ná sy eis verlede jaar aan NZ Rugby dat Suid-Afrika uit die Superreeks gegooi moet word?

Die uitvoerende hoof van Rupa, Ross Xenos, het verlede jaar hiermee saam aan Nieu-Seeland ook ʼn dreigement gerig: “As julle nie van die gedagte hou nie, en julle wil nie ʼn Australasiese reeks hê nie, as Suid-Afrika meer vir julle as jul Tasmansee-bure beteken, geniet dit dan maar om oor ons (Australië) te vlieg, onderwyl ons ʼn tuisreeks bou wat met Engeland en Frankryk s’n kers vashou.”

Pale toe! het einde Julie verlede jaar daaroor berig.

En nou, mnr. Xenos? ʼn Lekker Australiese reeks waar jul spanne hul laaste 35 wedstryde teen die Kiwi’s verloor het? En waar julle jare lank al sukkel om iets soortgelyk as selfs die afgewaterde Curriebekerreeks in jul land te ontwikkel?

As Xenos sy sin sou kry, sou die twee Australasiese lande se voorste spanne elk twee tot drie keer per jaar teen mekaar speel. Hoe sal die oorheersing dán in syfers lyk?

Australië se twee sterkste spanne het die afgelope naweek groot slae teen die twee voorstes van Suid-Afrika gekry. Dan moet ʼn mens byvoeg dat die Bulls eintlik nog in ʼn stadium is waar hulle hul pad boontoe voel-voel benader.

Hulle het met 28-10 teen die Aussies se naasvoorloper, die Rebels, gewen; en Vrydag het die Lions die vloer gevryf met die Waratahs, 29-0, en die eerste keer ooit in Sydney teen hulle gewen.

Die Reds, wat op hul tuisveld in Brisbane met 12-36 teen die Chiefs slae gekry het, en die Jaguares, met slegs hul 15de oorwinning in hul 39 Superwedstryde sedert 2016 toe hulle die Brumbies met 25-20 op hul tuiswerf geklop het, onderstreep die sotheid van Xenos se woorde en die gehalte van die spel in Australië.

Daar is nietemin genoeg spelers om ʼn stewige nasionale span te kies, maar dit maak nie Australië se rugby gesond nie.

Met hierdie oorheersing van Nieu-Seelandse spanne kan ʼn mens verstaan waarom die All Blacks so goed vaar in wêreldrugby. Maar, die hartseervraag is: Hoe is Suid-Afrika dan só vrot dat ons so sukkel om die Wallabies te klop?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wesley ·

Jou laaste vraag in die artikel kan ons net aan die base by SARU stel, want ons almal anders is in die donker hieroor. Hul sal seker net dit stoot na Toetie toe, waar hy dan weer die spelers onder die bus gooi. Fleck het mooi geleer by hom hoe om dit te doen…

T. van Schalkwyk ·

Die stomme Ross Xenos het heel waarskynlik bloot probeer wal gooi teen die Western Force se uitskop uit die Superreeks. Jare se ontwikkeling en groei is op ondeurdagte wyse ongedaan gemaak in Aus.
Rupa het ten minste lojaliteit en empatie met jarelange medespelers gehad, anders as die Kiwi’s en selfs die SA spanne wat min of geen simpatie met die Cheetahs en Kings het. Daar kon wraggies ‘n ander plan gemaak word, eerder as die rug op drie spanne te draai.
En ja, klop maar eers die Wallabies ordentlik voor die Aussiespanne afgeskryf word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.